Gaan na inhoud

Weense Sirkel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Moritz Schlick

Die Weense Sirkel (Wiener Kreis) (1920-1938) was 'n groep filosowe en wetenskaplikes in Wene, Oostenryk wie hulself rondom die werk van die filosoof en fisikus Moritz Schlick skaar. Sentrale figure was die ekonoom Otto Neurath, die filosoof Friedrich Waismann en die filosoof Rudolf Carnap. Ludwig Wittgenstein en Karl Popper het gereeld byeenkomste bygewoon, maar hulle was nie lede van die groep nie aangesien hulle op essensiële punte afgewyk het van die groep se gepropageerde logiese positivisme oftewel logiese empirisisme. Ander lede was Gustav Bergmann, Herbert Feigl, Philipp Frank, Kurt Gödel, Hans Hahn, Eino Kaila, Victor Kraft, Karl Menger, Marcel Natkin, Olga Hahn-Neurath, Theodor Radakovic en Rose Rand. Twee boeke lê aan die basis van die ontwikkeling van hierdie stroming, naamlik Wittgenstein se Tractatus Logico-Philosophicus (1921), en Carnap se Der logische Aufbau der Welt (1926).

Doelstellings en temas

[wysig | wysig bron]
Ingang tot die wiskunde seminaar kamer aan die Universiteit van Wene, Boltzmanngasse 5. Ontmoetingsplek van die Weense Sirkel.

Lede van die Wiener Kreis verwerp enersyds die metafisika en die tradisionele kennisleer as sinloos en andersyds word gepoog om die wetenskap tot 'n eenheid te bring deur gebruikmaking van 'n “universele” wetenskaptaal: die simboliese logika. Metafisiese uitsprake - byvoorbeeld 'God bestaan' - en kenteoretiese uitsprake - soos 'Ek weet dat daar ‘n wêreld onafhanklik van ons ervarings bestaan' – word geag as sinloos. Die rede hiervoor lê in hul opvatting van 'betekenis': iets het betekenis volgens die Wiener Kreis as dit 'n toutologie is, wan wel 'n uitspraak is wat geverifieer kan word. So is die uitspraak 'alle vrygeselle is ongetroud' sinvol aangesien dit toutologies waar is: die waarheid van die uitspraak is in die uitspraak self ingesluit. 'n Uitspraak soos 'die water in ‘n glas X kook teen 100°C is dan weer sinvol omdat dit duidelik is hoe mens hierdie hipotese kan toets: naamlik deur die water effektief tot 100°C te bring.

Baie klassieke filosofiese uitsprake soos 'God bestaan', 'die werklikheid is slegs 'n afbeelding van 'n hoër werklikheid' of 'dit is moontlik dat hierdie wêreld 'n illusie is' val nie onder een van hierdie twee kategorieë van uitsprake nie en het dus geen betekenis nie. Hulle kan met andere woorde nie 'n bydrae tot kennis lewer nie. Wysgerige uitsprake lyk sinvol, hoewel hulle sinloos is, as gevolg van emosioneel gelaaide uitsprake wat geen kognitiewe inhoud het nie.

In dié verband moet mens ook opvattings oor die etiek en estetika evalueer. Etiese stellings word nie beskou as sinvolle uitsprake nie, maar as uitdrukkings van gevoelens of pogings om te ooreed. Dit is die sogenaamde teorie van die emotivisme en waarde-oordele en bevat geen proposisionele of kognitiewe inhoud nie. Daar kan geen waarheidsgehalte daaraan toegeskryf word nie. Soos vroeër gestel gaan dit by die soort uitspraak bloot om gevoelens. 'n Uitspraak soos 'Jan is 'n slegte mens' kan vertaal word as 'Ek voel nie goed oor wat Jan doen nie'.

Na die opkoms van die Nazi-regime in Duitsland moes baie lede van die Weense Sirkel vlug en stort dit ineen. Die meerderheid van die lede, soos Carnap, Feigl en Gödel vlug na die Verenigde State. Otto Neurath is 'n uitsondering en gaan via Nederland na Groot-Brittanje. Ook Popper verlaat die land en gaan na Nieu-Seeland. In die Verenigde State sorg hierdie voormalige lede daarrvoor dat die Amerikaanse filosofie 'n sterk logies positivistiese stempel kry. Die toe heersende pragmatisme word so verdryf en in plaas daarvan word die analitiese filosofie later meer prominent. 'n Bekende leerling van Carnap was Willard Van Orman Quine wie self egter kritiek op die logiese positivisme lewer, vernaamlik soos uiteengesit in sy Two Dogmas of Empiricism (1951).

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

• GEIER, M. (1992): Der Wiener Kreis, Reinbek bei Hamburg.

  • Hierdie artikel is vertaal van die Nederlandse Wikipedia