Jump to content

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Hoofstuk 11

From Wikisource
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996)
Hoofstuk 11: Veiligheidsdienste
291446Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika — Hoofstuk 11: Veiligheidsdienste1996

198. Grondliggende beginsels
1. Nasionale veiligheid in die Republiek word deur die volgende beginsels beheers:
a. Nasionale veiligheid moet die vasberadenheid weerspieël van Suid-Afrikaners, as individue en as nasie, om as gelykes te leef, in vrede en harmonie te leef, vry te wees van vrees en gebrek, en ʼn beter bestaan na te streef.
b. Hierdie vasberadenheid om in vrede en harmonie te leef belet elke Suid- Afrikaanse burger om deel te neem aan gewapende stryd, nasionaal of internasionaal, behalwe waar ingevolge die Grondwet of nasionale wetgewing daarvoor voorsiening gemaak word.
c. Nasionale veiligheid moet nagestreef word in ooreenstemming met die reg, met inbegrip van die volkereg.
d. Nasionale veiligheid is onderworpe aan die gesag van die Parlement en die nasionale uitvoerende gesag.

199. Instelling, struktuur en optrede van veiligheidsdienste
1. Die veiligheidsdienste van die Republiek bestaan uit ʼn enkele weermag, ʼn enkele polisiediens en enige intelligensiedienste wat ingevolge die Grondwet ingestel word.
2. Die weermag is die enigste wettige militêre mag in die Republiek.
3. Benewens die veiligheidsdienste ingevolge die Grondwet ingestel, kan gewapende organisasies of dienste slegs ingevolge nasionale wetgewing ingestel word.
4. Die veiligheidsdienste moet deur nasionale wetgewing gestruktureer en gereguleer word.
5. Die veiligheidsdienste moet optree, en moet hul lede oplei en van hulle vereis om op te tree, ooreenkomstig die Grondwet en die reg, met inbegrip van die volkeregtelike gewoontereg en van internasionale ooreenkomste wat die Republiek bind.
6. Geen lid van enige veiligheidsdiens mag ʼn klaarblyklik onwettige bevel gehoorsaam nie.
7. Nóg die veiligheidsdienste nóg enige van hul lede mag in die verrigting van hul funksies–
a. enige partypolitieke belang wat ingevolge die Grondwet wettig is, benadeel; of
b. op partydige wyse enige belang van ʼn politieke party bevorder.
8. Ten einde uitvoering te gee aan die beginsels van deursigtigheid en verantwoordingspligtigheid moet veelpartykomitees van die Parlement toesig hou oor alle veiligheidsdienste op ʼn wyse wat deur nasionale wetgewing of die reëls en orders van die Parlement bepaal word.
Verdediging

200. Weermag
1. Die weermag moet as ʼn gedissiplineerde militêre mag gestruktureer en bestuur word.
2. Die hoofdoel van die weermag is om die Republiek, sy territoriale integriteit en sy mense te verdedig en te beskerm, in ooreenstemming met die Grondwet en die volkeregtelike beginsels met betrekking tot die aanwending van mag.

201. Politieke verantwoordelikheid
1. ‘n Lid van die Kabinet moet vir verdediging verantwoordelik wees.
2. Slegs die President, as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, kan magtiging daartoe verleen dat die weermag aangewend word–
a. in samewerking met die polisiediens;
b. ter verdediging van die Republiek; of
c. ter nakoming van ʼn internasionale verpligting.
3. Wanneer die weermag aangewend word vir enige doel in subartikel (2) vermeld, moet die President die Parlement onverwyld en in gepaste besonderhede verwittig van–
a. die redes vir die aanwending van die weermag;
b. enige plek waar die mag aangewend word;
c. die getal mense wat daarby betrokke is; en
d. die tydperk waarvoor die mag na verwagting aangewend sal word.
4. Indien die Parlement nie sit gedurende die eerste sewe dae nadat die weermag aangewend is soos in subartikel (2) beoog nie, moet die President die inligting wat in subartikel (3) vereis word, aan die toepaslike toesighoudende komitee verskaf.

202. Bevel oor weermag
1. Die President as hoof van die nasionale uitvoerende gesag is die Opperbevelhebber van die weermag, en moet die militêre bevelvoerders van die weermag aanstel.
2. Daar moet ooreenkomstig die opdragte van die Kabinetslid wat vir verdediging verantwoordelik is, oor die weermag bevel gevoer word onder die gesag van die President.

203. Staat van nasionale verdediging
1. Die President as hoof van die nasionale uitvoerende gesag kan ʼn staat van nasionale verdediging verklaar, en moet die Parlement onverwyld en in gepaste besonderhede verwittig van–
a. die redes vir die verklaring;
b. enige plek waar die weermag aangewend word; en
c. die getal mense wat daarby betrokke is.
2. Indien die Parlement nie sit wanneer ʼn staat van nasionale verdediging verklaar word nie, moet die President die Parlement binne sewe dae vanaf die verklaring vir ʼn buitengewone sitting byeenroep.
3. ʼn Verklaring van ʼn staat van nasionale verdediging verval tensy dit binne sewe dae vanaf die verklaring deur die Parlement goedgekeur word.

204. Burgerlike sekretariaat vir verdediging
‘n Burgerlike sekretariaat vir verdediging moet deur nasionale wetgewing ingestel word om te funksioneer in opdrag van die Kabinetslid wat vir verdediging verantwoordelik is.

Polisie

205. Polisiediens
1. Die nasionale polisiediens moet gestruktureer word om in die nasionale, die provinsiale en, waar gepas, die plaaslike regeringsfere te funksioneer.
2. Nasionale wetgewing moet die bevoegdhede en funksies van die polisiediens bepaal en moet die polisiediens in staat stel om sy verantwoordelikhede doeltreffend na te kom, met inagneming van die behoeftes van die provinsies.
3. Die doelstellings van die polisiediens is om misdaad te voorkom, te bestry en te ondersoek, die openbare orde te handhaaf, die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm en te beveilig, en die reg te handhaaf en toe te pas.

206. Politieke verantwoordelikheid
1. ‘n Lid van die Kabinet moet vir polisiëring verantwoordelik wees en moet na oorleg met die provinsiale regerings en met inagneming van die polisiëringsbehoeftes en -prioriteite van die provinsies soos deur die provinsiale uitvoerende gesagte bepaal, die nasionale polisiëringsbeleid bepaal.
2. Die nasionale polisiëringsbeleid kan voorsiening maak vir verskillende beleide ten opsigte van verskillende provinsies na inagneming van die polisiëringsbehoeftes en –prioriteite van daardie provinsies.
3. Elke provinsie is daarop geregtig–
a. om polisie-optrede te monitor;
b. om toesig te hou oor die doeltreffendheid en bevoegdheid van die polisiediens, waarby inbegrepe is die ontvangs van verslae oor die polisiediens;
c. om goeie betrekkinge tussen die polisie en die gemeenskap te bevorder;
d. om die doeltreffendheid van sigbare polisiëring te bepaal; en
e. om met die Kabinetslid wat vir polisiëring verantwoordelik is, te skakel met betrekking tot misdaad en polisiëring in die provinsie.
4. ‘n Provinsiale uitvoerende gesag is verantwoordelik vir polisiëringsfunksies wat–
a. ingevolge hierdie Hoofstuk by hom berus;
b. ingevolge nasionale wetgewing aan hom opgedra is; en
c. in die nasionale polisiëringsbeleid aan hom toegewys is.
5. Ten einde die funksies te verrig wat in subartikel (3) uiteengesit word–
a. kan ʼn provinsie ondersoek instel, of ʼn kommissie van ondersoek aanstel, na enige klagtes van polisie-onbevoegdheid of ʼn verbrokkeling in betrekkinge tussen die polisie en enige gemeenskap; en
b. moet ʼn provinsie aanbevelings doen aan die Kabinetslid wat vir polisiëring verantwoordelik is.
6. By ontvangs van ʼn klagte wat deur ʼn provinsiale uitvoerende gesag ingedien is, moet ʼn onafhanklike klagteliggaam vir die polisie deur nasionale wetgewing ingestel, ondersoek instel na enige beweerde wangedrag van, of oortreding begaan deur, ʼn lid van die polisiediens in die provinsie.
7. Nasionale wetgewing moet ʼn raamwerk voorsien vir die instelling, bevoegdhede, funksies en beheer van munisipale polisiedienste.
8. ‘n Komitee bestaande uit die Kabinetslid en die lede van die Uitvoerende Rade wat vir polisiëring verantwoordelik is, moet ingestel word om doeltreffende koördinering van die polisiediens en doeltreffende samewerking tussen die regeringsfere te verseker.
9. ‘n Provinsiale wetgewer kan van die provinsiale kommissaris van die provinsie vereis om voor hom of enige van sy komitees te verskyn om vrae te beantwoord.

207. Beheer oor polisiediens
1. Die President as hoof van die nasionale uitvoerende gesag moet ʼn vrou of ʼn man as die Nasionale Kommissaris van die polisiediens aanstel om die polisiediens te beheer en te bestuur.
2. Die Nasionale Kommissaris moet beheer oor die polisiediens uitoefen en dit bestuur ooreenkomstig die nasionale polisiëringsbeleid en die opdragte van die Kabinetslid wat vir polisiëring verantwoordelik is.
3. Die Nasionale Kommissaris moet met die instemming van die provinsiale uitvoerende gesag ʼn vrou of ʼn man as die provinsiale kommissaris vir daardie provinsie aanstel, maar indien die Nasionale Kommissaris en die provinsiale uitvoerende gesag nie oor die aanstelling kan ooreenkom nie, moet die Kabinetslid wat vir polisiëring verantwoordelik is, tussen die partye bemiddel.
4. Die provinsiale kommissarisse is verantwoordelik vir polisiëring in hul onderskeie provinsies–
a. soos deur nasionale wetgewing voorgeskryf; en
b. behoudens die bevoegdheid van die Nasionale Kommissaris om ingevolge subartikel (2) beheer oor die polisiediens uit te oefen en dit te bestuur.
5. Die provinsiale kommissaris moet jaarliks aan die provinsiale wetgewer oor polisiëring in die provinsie verslag doen, en moet ʼn afskrif van die verslag aan die Nasionale Kommissaris stuur.
6. Indien die provinsiale kommissaris die vertroue van die provinsiale uitvoerende gesag verloor het, kan daardie gesag ooreenkomstig nasionale wetgewing gepaste verrigtinge vir die verwydering of oorplasing van, of tugstappe teen, daardie kommissaris instel.

208. Burgerlike sekretariaat vir polisie
‘n Burgerlike sekretariaat vir die polisiediens moet deur nasionale wetgewing ingestel word om te funksioneer in opdrag van die Kabinetslid wat vir polisiëring verantwoordelik is.

Intelligensie

209. Instelling van en beheer oor intelligensiedienste
1. Enige intelligensiediens, behalwe ʼn intelligensieafdeling van die weermag of die polisiediens, kan slegs deur die President, as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, en slegs ingevolge nasionale wetgewing ingestel word.
2. Die President as hoof van die nasionale uitvoerende gesag moet ʼn vrou of ʼn man aanstel as hoof van elke intelligensiediens wat ingevolge subartikel (1) ingestel word, en moet óf politieke verantwoordelikheid vir die beheer oor en bestuur van enige van die dienste aanvaar, óf ʼn lid van die Kabinet aanwys om dié verantwoordelikheid te aanvaar.

210. Bevoegdhede, funksies en monitering
1. Nasionale wetgewing moet die doelstellings, bevoegdhede en funksies van die intelligensiedienste reël, met inbegrip van enige intelligensieafdeling van die weermag of die polisiediens, en moet voorsiening maak vir–
a. die koördinering van alle intelligensiedienste; en
b. burgerlike monitering van die bedrywighede van die dienste deur ʼn inspekteur wat deur die President as hoof van die nasionale uitvoerende gesag, aangestel word en wat goedgekeur is by ʼn besluit van die Nasionale Vergadering aangeneem met ʼn ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die Vergadering.