Gaan na inhoud

Wikipedia:Voorbladartikel week 35 2024

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Maria Elizabeth Rothmann.

Miemie Rothmann (bekend as M.E.R.; 28 Augustus 1875 – 7 September 1975) was ’n bekroonde Afrikaanse skrywer. Sy is een van die eerste vroue in die land om ’n B.A.-graad te behaal, een van die eerste vroulike Afrikaanse joernaliste, ’n vegter vir vrouestemreg en selfs ’n tydlank ondervoorsitter van die Kaaplandse Nasionale Party. As skrywer verower sy die Hertzogprys en skryf ook kinder- en jeugverhale.

Maria Elizabeth Charlotte Rothmann is op 28 Augustus 1875 op Swellendam gebore. Sy was die jongste van nege kinders. Daar was vyf seuns in die gesin, naamlik Hendrik Sebastiaan (1856, wat baie jonk oorlede is, waarskynlik by geboorte), Gerhardus Johannes (Gert – 1858), Frederik Lindenberg (Fritz – 1860), Hendrik Benninghof (1863) en Jan Carel (1872, wat ook baie jonk oorlede is); en vier dogters, naamlik Martha Louisa (Martjie – 1862), Aletta Amelia (Lettie – 1866), Anna Wilhelmina (Annie – 1868) en sy self. Sy het ook ’n halfsuster, Christina (Chrissie) Kuhn uit haar pa se eerste huwelik met Maria Christina Kuhn. Maria is in 1854 met die geboorte van Chrissie oorlede en Chrissie word daarna by haar ma se familie groot.

In die vyftigerjare begin sy met die skryf van haar outobiografie wat veel later as My beskeie deel gepubliseer is. Van die herinnerings word vanaf 24 Maart 1954 as ’n reeks onder die titel Van vanslewe in Sarie Marais gepubliseer. Sy behou steeds haar belangstelling in politieke en aktuele sake en is byvoorbeeld sterk gekant teen die  verwydering van die bruin mense van die gesamentlike kieserslys in die vroeë vyftigerjare. In April 1962 lewer sy ’n persoonlike pleidooi teen die verskuiwing van die bruin inwoners uit Lemmetjiesdorp, aangrensend aan Swellendam. Hoewel sy die beleid van die onafhanklikwording van die tuislande steun, was sy nie ten gunste van onderwerping van veral die bruin mense en die toepassing van die Groepsgebiedewet binne Suid-Afrika nie.

In haar 95ste jaar val sy en breek ’n heup, maar herstel nietemin sodanig dat sy weer op haar eie kan regkom. M.E.R. is op Sondag, 7 September 1975, tien dae na haar honderdste verjaarsdag, in haar huis in Swellendam oorlede. Haar letterkundige dokumente (briewe en ander belangrike stukke) word in die Carnegie-biblioteek van die Universiteit Stellenbosch gehuisves.

...lees verder