Seti I
Seti I | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Menmaatre, Seti Merenptah | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Farao van die 19de Dinastie | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Periode | 1290-1279 v.C. | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Voorganger | Ramses I | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Opvolger | Ramses II | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Vader | Ramses I | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Moeder | Sitre | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Gade(s) | Toeja | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Oorlede | 1279 v.C. | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Seti I in Egiptiese hiërogliewe | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Menmaatre Seti I was ’n farao van die 19de Dinastie van Antieke Egipte. Hy was die seun van Ramses I en Sitre, en die pa van Ramses II. Nes met ander farao's is die presiese datum van sy bewind nie seker nie, maar datums wat dikwels aangegee word, is 1294-1279 v.C.[1] en 1290-1279 v.C.[2]
Die naam Seti beteken "van Set", wat verwys na die god Set. Nes ander farao's het hy verskeie name gehad. Met sy troonbestyging het hy die praenomen of troonnaam "mn-m3‘t-r‘ " aangeneem, wat gewoonlik Menmaatre uitgespreek en as "Gevestig is die Regverdigheid van Ra" vertaal word.[3] Sy nomen of geboortenaam, wat beter bekend was, was "sty mry-n-ptḥ" of Seti Merenptah, wat beteken "Man van Set, gelief by Ptah". Die Griekse priester Manetho het hom verkeerdelik beskou as die stigter van die 19de Dinastie en het gemeen hy het 55 jaar lank regeer, maar geen bewyse van so ’n lang bewind is al gevind nie.
Bewind
[wysig | wysig bron]Ná die enorme sosiale onrus wat veroorsaak is deur die godsdienshervormings van Achenaten, was Horemheb, Ramses I en Seti I se vernaamste taak om orde in die koninkryk te herstel en Egipte se soewereiniteit oor Kanaän en Sirië te hervestig wat bedreig is deur toenemende druk deur die Hetitiese staat. Seti het die Hetiete se mag verskeie kere met energie en vasberadenheid in gevegte uitgedaag. Hy kon nie ’n einde bring aan die Hetiete as ’n dreigende gevaar nie, maar het die grootste deel van die betwiste grondgebied vir Egipte herwin en die meeste van sy militêre veldtogte gewen.
Herinnerings aan sy militêre sukses is in ’n paar groot tonele voor in die tempel van Amoen in Karnak uitgebeeld. ’n Doodstempel is in Thebe aan die westeroewer van die Nyl vir hom opgerig en hy het begin met die bou van ’n indrukwekkende tempel van wit kalksteen in Abidos; laasgenoemde is later deur sy seun voltooi. Sy tydgenote het hom as ’n groot koning beskou, maar sy roem is sedertdien oorskadu deur dié van sy seun, Ramses II.
Graftombe
[wysig | wysig bron]Seti I se goed bewaarde tombe (KV17) is in 1817 deur die Italiaanse argeoloog Giovanni Battista Belzoni in die Vallei van die Konings ontdek. Dit was teen 136 meter die langste[4] en diepste van al die tombes van die Nuwe Ryk. Dit was ook die eerste tombe met versierings (insluitende Die Legende van die Vernietiging van die Mensdom)[5] in elke gang en kamer, met baie fyn basreliëfwerk en kleurryke skilderings. Stukke daarvan, onder meer ’n groot pilaar met Seti I by die godin Hathor, kan in die argeologiese museum in Florence gesien word. Hierdie dekoratiewe styl het ’n presedent geskep wat ten volle of gedeeltelik in latere tombes van die Nuwe Ryk gevolg is. Seti se mummie is eers in 1881 ontdek en word sedertdien in die Kaïro-museum gehou.
Sy groot sarkofaag, wat uit een stuk bestaan en aan elke kant versier is (met onder meer die godin Noet aan die binnekant), is in die Sir John Soane-museum in Londen.[6]
’n Ondersoek van Seti I se baie goed bewaarde mummie het getoon hy was waarskynlik jonger as 40 jaar toe hy onverwags dood is. Dit is in skrille kontras met Horemheb, Ramses I en Ramses II, wat almal redelik oud geword het. Die rede vir sy vroeë dood is nie bekend nie, want daar is geen bewyse daarvoor aan die mummie nie. Die kop is afgekap, maar dit was waarskynlik die werk van grafrowers. Die Amoen-priesters het die kop versigtig weer met ’n linnekleed aan die lyf vasgewerk. Dit kan wees dat hy aan sy hart dood is, want dié is in die regterdeel van sy liggaam gevind, terwyl dit destyds altyd links geplaas is tydens die mummifikasieproses. Party meen dit was ’n fout, terwyl ander dink dit was ’n poging om die werking van Seti se hart in die hiernamaals te verbeter. Die mummie was sowat 1,7 meter lank.[7]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Michael Rice (1999). Who's Who in Ancient Egypt. Routledge.
- ↑ J. von Beckerath (1997). Chronologie des Äegyptischen Pharaonischen (in Duits). Phillip von Zabern. p. 190.
- ↑ Peter Clayton, Chronicle of the Pharaohs, Thames and Hudson Ltd, 1994
- ↑ "Pharaoh Seti I's Tomb Bigger Than Thought" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Julie 2018. Besoek op 19 April 2008.
- ↑ "Legend of the Gods". Kegan Paul. 1912. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 April 2012. Besoek op 16 Oktober 2011.
- ↑ "Egyptian Collection at the Sir John Soane's Museum" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2014. Besoek op 15 Februarie 2007.
- ↑ Christine Hobson, Exploring the World of the Pharaohs: A Complete Guide to Ancient Egypt, Thames & Hudson, (1993), bl. 97
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Seti I - Archaeowiki.org
- Die monumente van Seti I (pdf) deur Peter Brand
- "The complete titulary of Seti I"
- 360°-panorama van Seti I se tombe
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Seti I.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia