Pioniershuis
Pioniershuise is gebou deur die trekboere en Voortrekkers wat die binneland van Suid-Afrika getem het. Die Trekkers kon net die nodigste materiale en gereedskap op hul waens saamneem en was dikwels eenvoudige boere wat nie in die boukuns opgelei was nie. Hul huise is derhalwe in eenvoudige style gebou wat by die klimaat en aard van die omgewing gepas het, en die beskikbare materiaal van die streek is gebruik: hout, klip, riet of gras, klei, ensovoorts.
Die eerste huise was van materiaal wat maklik verweer en is later vervang deur duursamer wonings van byvoorbeeld klei; ander is agtergelaat om te vergaan wanneer die setlaar sy wa gepak en na nuwe weivelde of weg van vyandelike inboorlinge getrek het.
Agtergrond
[wysig | wysig bron]Wanneer 'n mens aan eg Suid-Afrikaanse argitektuur dink, word daar gewoonlik net aan die Kaapse gewelhuise met hul swierige uitleg, mooi grasdakke en weelderige gebruik van geelhout en ander boumateriale gedink. Die huise was meestal die wonings van gegoede wyn- of graanboere, in beskutte, waterryke dele naby dorpe waar opgeleide vakmanne en boumateriaal van hoë gehalte beskikbaar was. Op die spoor van die pioniers wat die binneland van Suid-Afrika in die 18e en 19e eeu getem het, het egter ook 'n ander, ewe kenmerkende volksboukuns ontstaan.
Dit is die sogenaamde pioniershuise, wat gebou is van die beskikbare materiaal van die besondere streek waarin die pionier hom bevind het. Die pioniershuis was dikwels ʼn primitiewe en tydelike woonplek. Wanneer dit deur 'n trekboer gebou is, het dit dikwels net gedeug totdat die weiding in daardie bepaalde omgewing vanweë droogte of oorbeweiding uitgeput was. Die trekboer het dan sy paar besittings weer in sy wa gepak en op 'n ander plek gaan woon.
Die Voortrekkers, wat om politieke redes begin swerf het, kon weens die onherbergsaamheid van die streke waarheen hulle getrek het, aanvanklik ook net tydelike woonplekke, die sogenaamde hartbeeshuise, oprig. Daar is geen skriftelike beskrywings van die pioniershuise van die vroeë trekboere nie, maar oral in Suid-Afrika is daar wel oorblyfsels of namaaksels daarvan wat 'n goeie idee van die besondere boustyl gee. Van die Voortrekkers se hartbeeshuise het weer geen spoor oorgebly nie, maar danksy die geskrifte van reisigers soos James Backhouse in die binneland en ook dagboekbeskrywings soos die van Louis Trichardt, kan 'n goeie denkbeeld van hul samestelling gevorm word.
Die belangrikste kenmerk van die pioniershuis is dat dit van die beskikbare materiaal van ʼn bepaalde streek gebou is. Op die manier het bepaalde boustyle in verskillende streke ontstaan vanweë die besondere boumateriale wat daar beskikbaar was. Hout vir planke was gewoonlik net naby die kus te kry. Riete en/of dekgras is vir dakke gebruik, klei of mengsels van klei, strooi en klip vir mure, en klei, beesmis, perske- of maroelapitte of miershoopgrond vir vloere. Glas vir ruite was tot laat in die 19e eeu onbekombaar. Venstergate is met kaliko of met skerms van riet of gras toegemaak. Insgelyks is eenvoudige eenvertrekhuise dikwels met gras of rietskerms of gordyne in vertrekke verdeel.
Kapstylhuise
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Kapstylhuise.
Die algemeenste trekboerwoning was die kapstylhuis. Soortgelyke geboue word nog in Kaapland, byvoorbeeld by Heidelberg, as waenhuise, tabakskure of pakskure gebruik. Die beste voorbeelde van die kapstylhuis is 'n ent buite die dorp by Vermaaklikheid en by die vakansieplek Puntjie, waar die Duiwenhoksrivier in die see uitmond. Die groep kapstylhuise by Puntjie is deur boere van die kontrei as vakansiehuise gebou en die tradisionele boustyl van die vroeë inwoners is nagevolg.
Die kapstylhuis is, soos die naam aandui, bloot die kap van 'n dak wat nie op mure nie, maar regstreeks op die grond rus. Dit bestaan uit ʼn reeks kapbalke wat saamgevoeg is met houtpenne en versterk is deur koppel- of hanebalke wat insgelyks met penne aanmekaargeslaan of met rieme versterk is. Dwarslatte is aan die kapbalke geheg en dikwels is 'n windlat aan elke kant skuins van bo na onder aangebring. Hieraan is die grasdak, van bondels riet of dekgras, vasgewerk.
Die nok is met 'n mengsel van grond en beesmis waterdig gemaak. Later is teer ook hiervoor gebruik. Sulke kapstylhuise is tot in 1875 nog deur Voortrekkers by Kranskop in Natal bewoon en volgens beskrywings was hulle redelik ruim: 6 tot 9 m lank, sowat 2 m hoog en 3 tot 4 m wyd. Hulle was groot genoeg om met gordyne in 2 tot 3 vertrekke verdeel te word. 'n Lae sooimuur, met grond en beesmis gesmeer, het die kapbalke aan die lang kante versterk en gesteun en het ook die woonvertrek teen trekke en reënwater beskerm. Die vloer was van miershoopgrond gemaak wat voortdurend met beesbloed of lynolie gesmeer is om dit hard en blink te hou.
Tussen Heidelberg en Puntjie staan 'n hele paar huise wat ʼn verdere ontwikkeling van die kapstyl vertoon. Hulle het lae symure en gewels van klip, met ʼn massiewe klipskoorsteen wat by die geweleinde uitsteek. Die kapstylhuis het 'n lang geskiedenis en het reeds in Europa voorgekom. Voorbeelde daarvan is afgebeeld in rotsskilderye in die Dordogne in Suid-Frankryk en in ʼn 15e-eeuse skildery in die museum in Valencia in Spanje. Sulke huise word nog deur veewagters in Hongarye, in die Camargue-streek, in die Ryngebied en in Holland gebruik.
Hartbeeshuise
[wysig | wysig bron]Die hartbeeshuis kan as die tipiese woonhuis van die vroeë Vrystaatse nedersetters en van die Voortrekkers beskou word. Die enigste illustrasies wat behoue gebly het, is 'n paar deur die reisiger James Backhouse en 'n skildery van ʼn Trekkerkamp deur Thomas Baines. Backhouse het gemeen die huise is so genoem vanweë die ooreenkoms in vorm met die van die hartbees, maar die werklike verklaring vir die naam vind 'n mens in die beskrywings van die Trekkers self.
Dit is afgelei van die harde biesies (riet) wat in die konstruksies gebruik is. Voordat 'n hartbeeshuis gebou is, is eers die lengte van die mure afgetree en die 4 hoeke gemerk. 'n Vlak sloot is gegrawe en 4 hoekpale is ingeplant. Tussenin is ander lang, buigsame pale geplant, gewoonlik groen wilger- of kareetakke. Daarna is die pale aan die lang kante twee-twee na mekaar oorgebuig en met rieme aan mekaar vasgewoel. Dwarslatte waarop die dekgoed kon rus, is daarna aangebring.
Op die plek waar die deuropening moes kom, is nog 2 regop pale so hoog as wat die deur moes wees, ingeplant. Bo en aan weerskante is die pale aan mekaar en aan die oorkruispale vasgeheg. Die dekgoed was riet of gras. Die mure is binne en soms ook buite met klei gepleister en 'n grasdak is bo-oor aangebring: Die hartbeeshuis het gewoonlik geen herd of enige vorm van vuurmaakplek vir kosbereiding gehad nie. Daar was soms 'n klein stofie wat in die middel van die vloer gestaan het en dan was daar ook ʼn gat in die dak waardeur die rook kon ontsnap.
Kos is gewoonlik in die kookskerm buite of onder 'n gerieflike boom berei. Die kookskerm was halfsirkelvormig en het 'n houtraamwerk gehad wat met gras en dikwels ook bees- of ander diervelle bedek was. Die binnekant was uitgepleister. Die voorkant was oop maar kon snags met velle toegemaak word.
Korbeelhuise
[wysig | wysig bron]In die barre halfwoestynstreek van Noord-Kaap, tussen Williston en Carnarvon aan die voet van die Kareeberg, het die vroeë skaap- boere 'n heel ander soort woonhuis gebou. In die gebied is daar byna geen bome nie en derhalwe baie min houtmateriaal. Daar is egter volop plat klippe. Die klippe is gebruik om huise in 'n byekorfvorm volgens die korbeelstyl te bou. Korbeelwerk is 'n boumetode waarin elke laag stene of klippe effens meer na die binnekant toe uitsteek as die vorige ry.
Die korbeelhuise het 'n deursnee van sowat 5 m en is tot 7 m hoog. Die dakopening word afgesluit deur 'n groot plat klip of raamwerk van draagbalke wat met klippe bedek word. Sommige korbeelhuise, soos die by Gorras en Grootfontein in Namibië, is later uitgebou deur ʼn langwerpige vertrek met 'n plat- 01 grasdak by te voeg. Die enigste korbeelhuis met ʼn bekende boudatum is 'n hut by 'Thokoboos, waarop die datum 1851 aangebring is. Die ander word omtrent ewe oud geskat:
Die op Arbeidersfontein is in ongeveer 1872 gebou en die 2 by Konka in ongeveer 1885. Van die huise word nog bewoon. 'n Besondere kenmerk van korbeelhuise is die rye uitstaande bouklippe in die dakke wat as vastrapplekke en ankers vir steierwerk gedien het en wat nog gebruik word wanneer herstelwerk gedoen of die dak afgewit moet word. 'n Smal vensteropening is gewoonlik langs die deur aangebring en daar word vertel dat die openinge opsetlik so smal gebou is ingeval die San die huis sou aanval.
Dit word gestaaf deur die feit dat die openinge skuins na binne loop om pyle sodoende te stuit. Daar is dikwels 'n bêregat in die muur en 'n buitengewone verskynsel is 'n stuk horing wat as ʼn soort kapstok in die muur ingebou is, en in byna elke korbeelhuis voorkom. 'n Gedeeltelike solder is ook in die huise by Konka en Sehuinshoogte gebou. Net Konka s'n bestaan nog. Korbeelgeboue is sedert die bronstydperk in die Middellandse See-gebied bekend. Hiervandaan is die styl deur migrasie na Frankryk, Spanje, Brittanje, Ysland en Skandinawië versprei. Die Suid-Afrikaanse korbeelhuise lyk baie soos die wat vandag nog in sekere streke van Italië en Suid-Frankryk bewoon word.
Ander soorte huise
[wysig | wysig bron]Pioniers wat vroeg reeds hut trekgewoonte gestaak en hulle op een plek gevestig het, het gou nog meer permanente woonhuise begin oprig. Voorbeelde van sulke huise uit die tyd voor 1820 in die Vrystaat staan nog, hoewel bouvallig. Ook die Voortrekkers wat Transvaal toe getrek het, veral na die omgewing van Potchefstroom, het duursamer geboue opgerig. Daar was verskillende boumetodes. Die meeste huise was reghoekig, met klei- of steengruismure en later klipmure en geweldakke.
Sooie is ook gespit en met die graskant na onder in lae op mekaar gepak en in die son gedroog. Dit is dan met 'n mis-en-kleimengsel gepleister en, as kalk beskikbaar was, ook afgewit. Nog later is roustene gemaak en daarmee gebou. Hexrivier, Reddersburg Die oorblyfsels van 2 geboue wat opgerig is deur Andries Venter, wat hom kort na 1820 in die kontrei gevestig het, word as die oudstes noord van die Oranje beskou. Hulle is die sogenaamde Kerkhuis - wat as sowel woonhuis as kerkgebou vir die omgewing se boere gedien het - en die Kopjehuis, so genoem omdat dit op 'n koppie staan Die Kerkhuis se afmetings IS sowat 5 m by 11 m en die kleimure staan op leiklipvoetstukke.
Klei is met strooi of beesmis gemeng en soos deeg gebrei. Dit is dan laag vir laag op die leiklip gebou en elke laag is eers toegelaat om goed droog te word, Elke laag is omtrent 35 cm hoog. In die vierde laag is 2 vensteropeninge gelaat en onbewerkte takke is as lateie bo-oor geplaas, Daar is geen teken dat daar glasvensters of meer as 'n baie ruwe deur was nie. Daar het geen teken van dakkappe oorgebly nie, maar hulle was waarskynlik soortgelyk aan die van 2 latere woonhuise naby Zastron en Wepener, waar kapbalke en dwarslatte van wilgertakke as basis vir die grasdak gebruik is.
Hefersdal, Gumtree
[wysig | wysig bron]Die huis is effens later as die ander opgerig en is interessant omdat dit feitlik ongeskonde bly staan het en ook 'n goeie aanduiding gee van hoe sulke huise met natuurlike materiaal uit die omgewing toegerus en geriefliker gemaak is. Die mure is van klei en aan die suidekant van die huis is 'n groot bakoond. In die alkowe aan weerskante van die herd is voorraadrakke van riet deur middel van riempies van die solderbalke gehang. Die plafon is van dik riete wat met riempies styf teen mekaar vasgebind is.
'n Laag klei, 15 cm dik, bedek die riete en vorm die brandsolder. Die soort solder was 'n voorsorgmaatreël indien die grasdak aan die brand sou raak; die binnekant van die huis was beskerm deurdat die brandende materiaal op die solder beland het. Die eenvoudige meubels wat die pioniers op hul waens saamgebring het, is aangevul deur "ingeboude" meubels soos klipsitplekke, klein muurkaste en ander toebehore. Twee sulke geriewe word nog by Hefersdal aangetref: die een is ʼn tafel met 'n plaveisteenblad wat op 3 stewige boomstamme rus, en ʼn "kapstok", 'n regop boomstam met verkorte takke.
Klipplaatsdrif, Rouxville
[wysig | wysig bron]Die huis, wat in 1835 deur Gustavus Withelmus Fouche -gebou is, is tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit is byna soortgelyk aan die een van Andries Venter by Hexrivier. Dit was oorspronklik ʼn tweevertrekhuis, maar 'n waenhuis is kort daarna bygevoeg. Volop leiklip is in die omgewing beskikbaar en Fouche het dit ten volle as boumateriaal benut. Dit is nie net as lateie nie, maar ook as hoeksetels en plaveimateriaal voer die huis gebruik. Beesbene en takke is in die muur ingebou en is waarskynlik as kapstokke en rakstutte gebruik.
Huisraad
[wysig | wysig bron]Afgesien van die karige hout- en klipsitplekke en klein kaste wat in die latere, meer permanente pioniershuise ingebou is, het die huisraad gewoonlik net bestaan uit die klompie meubels wat op die pionier se wa vervoer kon word. James Backhouse beskryf die inhoud van die hartbeeshuisie van Solomon en Adriana Katharina Norgi wat hy in 1836 besoek het, in sy dagboek. Daar was ‘n lae katel, 2 wakiste wat as tafel gedien het, 2 voustoeltjies, 'n stoel, 'n konfoor en 'n klompie karosse waarop die kinders geslaap het.
Daar was ook soms 'n opvoutafel met stinkhoutpote en 'n geelhoutblad. Kinders het nie 'n slaapkamer gehad nie, maar het gewoonlik op karosse oral in die huis geslaap. Ouer seuns het gewoonlik later in die waenhuis of op die wa geslaap of in die veld by die vee, wat hulle moes oppas. Die meisies het in die huis geslaap. Sommige pioniers, soos Jan Jacobus Roos, wat hom later naby die huidige Klerksdorp gevestig het, het ook 'n harmonium op die trek saamgeneem.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Barnard, Eureka: 'n Evaluering van die volksboukuns van die Swellendam-omgewing. Universiteit van Stellenbosch: ongepubliseerde M.A.-verhandeling, 2003
- Japha, Derek en Vivienne Japha: The landscape and architecture of Montagu, 1850 - 1915. School of Architecture, Universiteit van Kaapstad, 1992. ISBN 0-7992-1432-9
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 090840963X, volume 22, bl. 191