Gaan na inhoud

Krieket Suid-Afrika

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Krieket Suid-Afrika
Kenteken van Krieket Suid-Afrika
Kenteken van Krieket Suid-Afrika
Engelse naam Cricket South Africa
Afkorting CSA
Land Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Sportsoort Krieket
Stigting 2002 (1991)
Lid van Internasionale Krieketraad
Aangesluit op 29 Junie 1991
Vastelandse beheerliggaam Afrikakrieketvereniging
President Rihan Richards
Voorsitter Lawson Naidoo
Hoof- uitvoerende beampte Pholetsi Moseki
Setel Johannesburg, Suid-Afrika
Amptelike taal Engels
Amptelike webwerf cricket.co.za

Krieket Suid-Afrika (Engels: Cricket South Africa, afgekort “CSA”), oftewel KSA, is die bestuursliggaam wat krieket in Suid-Afrika beheer en is in Johannesburg gesetel. Dit is in 2002 gestig en het tot in 2008 langs die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (VKR; United Cricket Board of South Africa, “UCBSA”) bestaan en het toe die alleenlike beheerliggaam van Suid-Afrikaanse krieket geword. Dit verteenwoordig Suid-Afrika by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en ook by die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”).

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Beginjare

[wysig | wysig bron]

Van die 1880’s af is krieket in Suid-Afrika deur beheerliggame bestuur en van die 1890’s af was daar aparte beheerliggame vir elkeen van die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe.[1] Op 15 Junie 1909 het Suid-Afrika saam met Australië en Engeland op die Londense Lord’s die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) gestig, alhoewel die Unie van Suid-Afrika eers in 1910 gestig is.[2]

Onder apartheid

[wysig | wysig bron]

Die Imperiale Krieketkonferensie het tydens sy vergadering in Julie 1961 daarop besluit om die kwessie, of Suid-Afrika ná sy uittrede uit die Britse Statebond verder ’n lid van die krieketbeheerliggaam sou wes of nie, uit te stel. Die in dié tydperk gespeelde wedstryde van Suid-Afrika teen ander lidlande sou as “nieamptelike toetse” geag word en kon later as amptelike toetswedstryde erken word. In die tussentyd het Australië op ’n beslissing van die Imperiale Krieketkonferensie aangedring, maar tydens die vergadering in Julie 1962 is daarop besluit, om die spesiale situasie vir Suid-Afrika nie te verander nie. Veral die feit dat twee wit krieketspelers, Neil Adcock en Roy McLean, lede van die multietniese span Commonwealth XI was, was vir hierdie besluit instrumenteel. Albei sportlui het in 1962 aan verskeie wedstryde in tale lande deelgeneem, behalwe vir Suid-Afrika. Daarbenewens was die Suid-Afrikaanse “bruin” krieketspeler Basil D'Oliveira in Engeland as ’n professionele speler aktief.[3] Ondanks ’n verandering in die reëls in 1964, waarvolgens lande ook geassosieerde lede kon wees, het Suid-Afrika geen nuwe aansoek vir lidmaatskap ingedien nie.[4] Die Suid-Afrikaanse Krieketraad vir Beheer, ’n instelling wat lede uit al die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe ingesluit het, het op internasionale erkenning en ’n uitsluiting van die uitsluitlik uit “wit” lede bestaande Suid-Afrikaanse Krieketassosiasie aangedring.[3]

In 1970 is Suid-Afrika weens sy apartheidsbeleid amptelik uit internasionale krieket geskors. Voor sy uitsluiting het net Engeland, Australië en Nieu-Seeland gereeld teen Suid-Afrika gespeel,[5] terwyl ander krieketlande soos Indië en Wes-Indië Suid-Afrika reeds geboikot het. ’n Groot invloed hierin was die politiese affêre in 1968 rondom die “bruin” speler Basil D'Oliveira wat vir Engeland gespeel het (maar nooit vir Suid-Afrika sou speel nie), maar ook hewige weerstand teen die beplande Engelse toer in 1970 (wat eindelik gekanselleer is), gehad. Vervolgens was die Australiese 1970-toer na Suid-Afrika die laaste amptelike toer tot Suid-Afrika se heraansluiting by die IKR.[6]

In 1976 is die Suid-Afrikaanse Krieketunie ten einde van ’n “multietniese” en “prestasiegerigte” benadering, sogenaamde “gewone” krieket, gestig.[7] Dié beheerliggaam was daartoe verbind om krieket in Suid-Afrika lewendig te hou.[8] Dit het egter net tot geringe deelname in die bedoelde bevolkingsgroepe gelei en nie die gewenste hertoelating tot internasionale krieket tot gevolg gehad nie. Die IKR-lede Indië, Pakistan en Wes-Indië het aangekondig dat hulle Suid-Afrika eers na die einde van apartheid weer sou toelaat. As gevolg van Suid-Afrika se isolasie van die internasionale speelprogram het die Suid-Afrikaanse beheerliggaam gepoog om ’n aantal krieketlande met “rebelletoere” na Suid-Afrika te oortuig, om die speelprogram in die land aan die gang te hou. Hierdie toere het egter weerstand deur die betrokke beheerliggame en regerings, die Internasionale Krieketkonferensie en die Verenigde Nasies teëgekom.[9]

Sedert hertoelating

[wysig | wysig bron]

Die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika het in Junie 1991 met die samesmelting van die in 1976 gestigte Suid-Afrikaanse Krieketunie en die Suid-Afrikaanse Krieketraad ontstaan, waardeur die etniese verdeling in Suid-Afrikaanse krieket beëindig is. Krieket Suid-Afrika (KSA) is in 2002 gestig en het tot in 2008 langs die in 1991 gestigte Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika (VKR) bestaan. Van 2002 tot 2008 was die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika verantwoordelik vir amateurkrieket, terwyl Krieket Suid-Afrika toesig gehou het oor professionele krieket; in 2008 het die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika saamgesmelt met Krieket Suid-Afrika. Sedertdien is dit die beheerliggaam van krieket in Suid-Afrika en toesighouer van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspanne.[10] Reeds in 1991 het Suid-Afrika weer ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys.[11] Daarbenewens was die Suid-Afrikaanse beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Afrikakrieketvereniging.[12]

In 2021 het die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, gedreig om Krieket Suid-Afrika van sy administratiewe rol oor die Proteas te ontneem, nadat dié beheerliggaam nie bereid was om ’n stigtingsdokument goed te keur nie, waarvolgens die beheerliggaam ’n onafhanklike raad sou gekry het.[13] Nadat die beheerliggaam die memorandum ten einde van ’n onafhanklike raad eenparig goedgekeur het, het Mthethwa sy intervensie teruggetrek, waarvolgens die Suid-Afrikaanse krieketbedryf weer deur Krieket Suid-Afrika gelei kan word.[14]

’n Krieketwedstryd by St Alban’s College, Lynnwood Glen, Pretoria

Krieket Suid-Afrika organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend die Proteas (Suid-Afrika se nasionale seniormanskrieketspan), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Krieket Suid-Afrika verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Proteas.

Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Suid-Afrika. Net soos ander krieketlande beskik Suid-Afrika oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[15] Suid-Afrika A is die tweede nasionale span van Suid-Afrika en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Suid-Afrika is die Curriebeker in eersterangse krieket (15 spanne), die Eendagbeker in EDI-krieket (15 spanne) en die SA20 in T20-krieket (ses spanne).

Krieket Suid-Afrika organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die Krieketwêreldbeker 2003 (saam met Kenia en Zimbabwe), die T20I-wêreldbeker 2007 en die Kampioenetrofee 2009. Saam met Namibië en Zimbabwe sal Suid-Afrika ook die Krieketwêreldbeker 2027 aanbied.[16]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "The United Cricket Board of South Africa". ESPNcricinfo. Besoek op 11 Februarie 2024.
  2. (en) "1909–1963 – Imperial Cricket Conference". Internasionale Krieketraad. Besoek op 11 Februarie 2024.
  3. 3,0 3,1 (en) Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV): A Survey of Race Relation 1962. Johannesburg 1963, bl. 220.
  4. (en) "History of the International Cricket Council". Internasionale Krieketraad. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Julie 2009. Besoek op 6 Julie 2009.
  5. (en) "Records / South Africa / Test matches / Series results". ESPNcricinfo. Besoek op 11 Februarie 2024.
  6. (en) Rodney Hartman (29 Desember 2005). "When they were kings". ESPNcricinfo. Besoek op 11 Februarie 2024.
  7. (en) André Odendaal (2003). The African Game. pp. 223–225. ISBN 978-1-57687-324-3.
  8. (en) "Rebels take a step too far". ESPNcricinfo. 1 Januarie 1970. Besoek op 11 Februarie 2024.
  9. (en) Peter May (2009). The Rebel Tours: Cricket's Crisis of Conscience. SportsBooks. pp. 35–71. ISBN 978-1-899807-80-2.
  10. (en) "Background". Krieket Suid-Afrika. Besoek op 11 Februarie 2024.
  11. (en) "Cricket South Africa". Internasionale Krieketraad. Besoek op 11 Februarie 2024.
  12. (en) "Members". Afrikakrieketvereniging. Besoek op 11 Februarie 2024.
  13. (en) Firdose Moonda (17 April 2021). "South Africa's captains apologise to stakeholders as CSA faces government sanction". ESPNcricinfo. Besoek op 11 Februarie 2024.
  14. (en) Firdose Moonda (30 April 2021). "CSA no longer under threat of defunding and derecognition". ESPNcricinfo. Besoek op 11 Februarie 2024.
  15. (en) Martin Williamson (11 Januarie 2006). "The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 11 Februarie 2024.
  16. (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 11 Februarie 2024.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]