Jan Bouws
Jan Bouws | |
---|---|
Gebore | 28 Julie 1902 Purmerend, Nederland |
Sterf | 26 Januarie 1978 Parow, Suid-Afrika |
Beroep(e) | Musikant, komponis, dosent, skrywer |
Instrumente | Klavier |
Jan Bouws (1902–1978) was ’n Nederlandsgebore musiekhistorikus en kenner van volkse musiek. In 1960 vestig hy hom op uitnodiging aan die Universiteit Stellenbosch as direkteur van die Instituut vir Volksmusiek. Hy het ’n reusebydrae tot die dokumentering en optekening van Suid-Afrika se inheemse volksmusiek gelewer en is bekend vir die toonsetting van "Op my ou ramkietjie".[1]
Lewensloop
[wysig | wysig bron]Jan Bouws is op 28 Julie 1902 in Purmerend in Nederland gebore.[2] Hy studeer Musiekwetenskap aan die Universiteit van Amsterdam en doseer daarna aan die Watergraafsmeerse Schoolvereniging in die ooste van Amsterdam. Een van sy verantwoordelikhede was om 'n kinderkoor te begelei. Gedurende die tyd is hy met Juliana van Heijningen getroud. Sy was 'n skrywer en navorser wat aan ensiklopedieë gewerk het. Hulle het twee seuns gehad, Niels en Jan.
Bouws het bydraes tot die Suid-Afrika-program vir die Nederlandse Uitgesaaikorporasie gemaak, wat hom aan die land en sy mense blootgestel het. In 1960 immigreer hy en sy vrou na Suid-Afrika en word hy 'n dosent aan die Universiteit Stellenbosch se Musiekskool. Hy het vlot Afrikaans en Frans praat en kon sy studies moeiteloos voortsit. Hy verwerf vervolgens sy D.Phil-graad in 1965 en het tot in 1972 lesings aangebied.
Gedurende sy studentejare het hy 'n klavier-opleidingsprogram ontwikkel wat steeds algemeen gebruik word: Het eerste Pianoboek, 12 Liedjes voor Piano, Het tweede Pianoboek, Het derde Pianoboek en 20 Speelliedjes van Overal.
Bouws het 'n enorme bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek gelewer, met o.a. toevoegings tot die South African Music Encyclopaedia, Die Musik in Geschichte und Gegenwart en die Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Talle artikels oor musiekgeskiedenis en -wetenskap het uit sy pen gevloei. Verskeie hiervan is in internasionale joernale in België, Denemarke, Duitsland, Holland, Hongarye en Switserland gepubliseer.
Hy onderskei homself ook as 'n komponis deur Afrikaanse gedigte te rangskik. Die bekende hiervan is "Op my ou ramkietjie". Die woorde van hierdie liedjie is deur C. Louis Leipoldt geskryf en het 'n volksliedjie in die Afrikaanse kultuur geword.
Bouws is op 26 Januarie 1978 in Parow in die Wes-Kaap oorlede.[3]
Toekennings
[wysig | wysig bron]- Ere-toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir musiek, 1960
- Stalsprys vir Geskiedenis van Kuns, 1967
- Eretoekennings deur die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging en die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings.
- Hy was 'n ere-direkteur van die Instituut vir Volksmusiek.
Publikasies
[wysig | wysig bron]- Het eerste Pianoboek
- 12 Liedjes voor Piano
- Het tweede Pianoboek
- Het derde Pianoboek
- 20 Speelliedjes van Overal
- 1946: Musiek en Suid-Afrika
- 1957: Suid-Afrikaanse komponiste van Vandag en Gister
- 1958: Die Afrikaanse Volkslied
- 1961: Woord en Wys van die Afrikaanse Lied
- 1962: Die Volkslied, weerklank van 'n volk se hartklop
- 1964: Maatgespeel (Essays oor musiek in Die Burger, Die Huisgenoot, Res Musicae, Die Sondagblad, Standpunte, Die Taalgenoot, en Tydskrif vir Letterkunde).
- 1966: Die musieklewe van Kaapstad (1800–1850) en sy verhouding tot die musiekkultuur van Wes-Europa
- 1968: Die volkslied, deel van ons erfenis
- 1971: Komponiste van Suid-Afrika
- 1972: Geskiedenis van die musiekonderwys in Suid-Afrika
- 1982: Solank daar musiek is... (Redigering deur Juliana Bouws-Van Heijningen.)
Hy was ook 'n mede-outeur van die South African Music Encyclopaedia en van Engelse, Nederlandse, Vlaamse en Duitse musiek-ensiklopedieë.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- ↑ Biografie op sahistory.org.za, besoek op 1 April 2017
- ↑ Biografie op stellenboschwriters.com, besoek op 1 April 2017
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Grové, Stefans: 'n Nederlandse Erfenis. In: Lantern.Tydskrif vir Kennis, Kuns en Kultuur, Jaargang 28, nr. 2, April 1979