Gaan na inhoud

Honger

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
The FAO se voedselprysindeks weerspieël veranderinge in die gemiddelde internasionale voedselprys. Die skerp styging in 2007/08 het 'n wêreldwye voedselkrisis laat ontstaan, met voedselopstande in verskeie lande, en het meer as 'n honderd miljoen mense in uiterste honger laat verval. Die skerp styging in 2010/11 het tot die "Arab spring" bygedra.

Honger is enersyds 'n gevoel en andersyds 'n toestand. Waar die gevoel net 'n gewaarwording is, dui die toestand op 'n tekort aan sekere voedingstowwe wat die liggaamselle van energie moet voorsien. Voedsel wat nie voedingswaarde het nie, neem byvoorbeeld wel die hongergevoel weg, al vul dit nie die fisieke tekorte aan nie.

Gevoel vs. toestand

[wysig | wysig bron]

Sielkundiges beskou honger nie net as ʼn behoefte (die behoefte aan voedsel) nie, maar ook as ʼn dryfveer aangesien honger tot ʼn bepaalde gedrag (die soeke na voedsel) lei. Op grond hiervan kan daar bepaal word presies hoe honger ʼn proefdier is. Daar word byvoorbeeld gekyk hoe bereid ʼn proefdier is om onaangename prikkels (soos ligte elektriese prikkels) te trotseer om voedsel in die hande te kry. Proefnemers bepaal ook hoeveel “arbeid” ʼn dier bereid is om te verrig deur te meet hoe dikwels hy ʼn knoppie druk om ʼn klein hoeveelheid voedsel te kry.

Die hongergevoel of -gewaarwording gaan gepaard met (registreerbare) sametrekkings van die maagwand wanneer die maag leeg is. Mense wie se mae byvoorbeeld in ʼn operasie verwyder is, kry egter ook die hongergevoel. Daar word van ʼn hongertoestand gepraat as daar tekorte is aan die stowwe wat die liggaamselle van energie moet voorsien. Die verband tussen die gevoel en die toestand is nie duidelik nie.

Rol van die brein

[wysig | wysig bron]

Tot ongeveer 1940 het die meeste mense met die Amerikaanse fisioloog Walter B. Cannon (1871-1945) saamgestem dat die maag en dermkanaal die belangrikste faktore is wat die gevoel van honger sowel as versadiging veroorsaak. By nadere ondersoek kon die dié teorie egter nie standhou nie.

Dit het byvoorbeeld geblyk dat die vulling van die maag en dermkanaal nie die enigste versadigingsfaktor is nie. ʼn Rot wat skielik voedsel kry waarvan die helfte geen voedingswaarde het nie, sal ná ʼn dag 2 keer soveel daarvan eet. Hieruit kan afgelei word dat die liggaam nie net die hoeveelheid voedsel (die druk op die maagwand) meet nie, maar ook die voedingswaarde.

By verdere ondersoek het dit geblyk dat die hipotalamus – ʼn gebied in die tussenbrein – ʼn belangrike rol speel. As die ventromediale deel van die hipotalamus by rotte geëlimineer word, eet hulle baie meer en word hulle vet. As die laterale deel van ʼn rot se hipotalamus geëlimineer word, kan dit selfs daartoe lei dat die rot glad nie meer eet nie, nie eens sy gunstelingkos nie. In baie gevalle het rotte wat in sulke gevalle nie kunsmatig gevoed is nie, gesterf. As die laterale deel van die hipotalamus ʼn elektriese prikkel kry, eet die rot baie meer en word hy baie vet. Die elektriese prikkeling van die ventromediale deel van die hipotalamus lei weer daartoe dat ʼn rot minder eet.

Eksperimente met ander diere het soortgelyke resultate opgelewer. Hoewel daar nie so vrylik met mense geëksperimenteer is nie, blyk dit dat gewasse in die hipotalamus ook daartoe lei dat mense meer eet en vet word of dat hulle eetlus verdwyn.

Die vraag ontstaan dus hoe dié dele van die hipotalamus die inligting verkry dat ʼn mens of dier honger of versadig is. Verskeie proefnemings dui daarop dat die samestelling van die bloed ʼn belangrike rol speel. As die helfte van die bloed van ʼn honger rot met dié van ʼn versadigde rot vervang word, eet hy net die helfte van die voedsel wat hy normaalweg eet as hy honger is. Die verskil tussen die bloed van die honger en die versadigde rot lê klaarblyklik in die insulien- en glukosevlak van die bloed.

Net voordat ʼn rot uit eie beweging begin eet, is die insulienvlak van sy bloed verlaag. Die styg kort nadat hy begin eet en daal dan weer. Die glukosevlak van sy bloed wissel nie voordat hy begin eet nie. Terwyl hy eet en daarná styg dit egter, en daal dan gou weer tot dieselfde vlak as vóór die maaltyd.

Hieruit kan die volgende afgelei word: Kort voordat die rot wil eet, is sy insulienvlak laag. Insulien is egter nodig om glukose deur die membraan van die meeste selle te vervoer. Aangesien 'n tekort aan insulien dié proses bemoeilik, ontwikkel die selle 'n tekort aan brandstof of energie. Gevolglik word die hipotalamus geprikkel om honger te veroorsaak sodat die insulienvlak in die bloed kan styg. Daar word dus aanvaar dat 'n groep gespesialiseerde senuweeselle (die hongersentrum en die versadigingsentrum) in die ventromediale deel van die hipotalamus by 'n glukosegebrek die laterale deel deur sterk verlaagde aktiwiteit prikkel, waardeur eetlus opgewek word.

Wêreldgraanproduksie per capita dui op 'n geleidelike toename. Met 'n kilogram per capita per dag, sou dit voldoende vir die wêreldbevolking wees, as dit nie was vir te hoë pryse of te lae inkomste nie.

Spesifieke honger

[wysig | wysig bron]

Daar bestaan nie net reguleringsmeganismes vir die voedsel wat kalorievoedingswaarde het en dus in die mens en die dier se energiehuishouding 'n rol speel nie, maar ook vir spesifieke voedselbestanddele soos vitamiene, spoorelemente, minerale, en so meer. 'n Rot wat 'n gebrek aan vitamien B1 het, sal byvoorbeeld altyd, as hy tussen 'n dieet met vitamien B1 en een daarsonder kan kies, die een met die vitamien B, kies. (Die diëte is in alle ander opsigte presies gelykwaardig.)

Proefnemings oor dié reguleringsmeganisme het tot sogenaamde homeostatiese teorieë gelei. Die aanhangers van dié teorieë het van die veronderstelling uitgegaan dat die liggaam 'n "wysheid" het wat voedingstekorte teenwerk omdat die liggaam altyd na 'n optimale toestand streef (homeostase = 'n ewewigtige toestand). Volgens dié teorie sal jong kinders met 'n souttekort byvoorbeeld altyd souterige kos wil eet.

Eetgedrag

[wysig | wysig bron]

Die teendeel word egter ook gedurig bewys deur mense wat oormatig eet en deur die feit dat mense wel voedingstekorte ontwikkel, selfs al is die bestanddele waaraan hulle 'n tekort het, beskikbaar. 'n Spesifieke honger is buitendien nie altyd 'n aanduiding van 'n gebrek nie: 'n voortdurende behoefte aan soetigheid word byvoorbeeld as 'n aangeleerde behoefte beskou.

Verskillende vorme van aangeleerde gedrag speel ook in ander opsigte 'n rol by mense (en in mindere mate by diere) se eetgedrag, en daarom kan eetgedrag nie altyd suiwer fisiologies verklaar word nie.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]