Gaan na inhoud

Giftigheid

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Giftigheid of toksisiteit is die mate van skadelikheid wat 'n sekere stof vir mense, diere of ander organismes besit.[1]

Daar word onderskei tussen:

  • die akute giftigheid—skade wat die organisme ondergaan deur 'n enkele blootstelling daaraan
  • die subchroniese giftigheid—die stof se vermoë om deur blootstelling gedurende 'n jaar (maar minder as die organisme se lewensduur) skade te veroorsaak
  • die chroniese giftigheid—die effekte van lang, soms lewenslank daaraan blootgestel te wees

Daar word van vergiftiging gepraat wanneer 'n stof skadelike effekte by 'n persoon teweegbring. Omdat so baie stowwe giftig is as dit in voldoende hoeveelhede in die liggaam beland, is dit moeilik om ʼn vaste definisie van 'n gif te gee. Noodhulp by akute vergiftiging is daarop gerig om sover moontlik te verhinder dat die gif in die bloed opgeneem word (deur byvoorbeeld die pasiënt te laat braak). 'n Stof word meestal as 'n gif beskou indien dit in relatief klein hoeveelhede groot risiko's vir die gesondheid inhou.

Paracelsus (1493-1541) het reeds opgemerk dat alle stowwe giftig kan wees indien dit in 'n groot dosis deur die liggaam opgeneem word. Die aanwesigheid van 'n giftige stof in die liggaam beteken dus nog nie dat daar sprake van ʼn vergiftiging is nie. Alle mense het klein hoeveelhede DDT, lood en kwik in hul liggame, maar die dosis is so klein dat geen vergiftiging intree nie (subtoksiese dosis). Eers wanneer 'n stof skadelike effekte by die gebruiker teweegbring, word dit as vergiftiging beskou.

Die wetenskap wat hom besig hou met die studie van gifstowwe, heet toksikologie. Een van die eerste moderne toksikoloë was die Fransman Claude Bernard (1813-1878), wat die pylpuntgifstowwe van die Indiane bestudeer het. 'n Belangrike begrip in die toksikologie is LD-50. Dit is die dosis waardeur 50 % van die proefdiere wat gifstof toegedien is, sterf. 'n Sterk gif-besit 'n lae LD-50, terwyl 'n swak gif 'n hoë LD-50 het (LD is die afkorting vir letale (dodelike) dosis).

Die meeste gifstowwe word via die mond opgeneem of ingeasem, maar sommige (byvoorbeeld paration, 'n insektegif) kan ook deur die onbeskadigde vel die liggaam binnedring. Verder kan daar onder sekere omstandighede metaboliese produkte (wat normaalweg afgebreek en uitgeskei word) in die liggaam ophoop en vergiftiging veroorsaak. Voorbeelde hiervan is asidose (die ophoping van sure in die bloed) en uremie (verhoogde terughouding van ureum, 'n afbraakproduk van proteïene). By die behandeling van 'n vergiftiging is dit belangrik om die opname van die gif deur die liggaam te verminder of te vertraag en die uitskeiding daarvan te versnel. By akute vergiftiging waar die gif deur die mond ingeneem en nog in die maag is, kan die stof verwyder word deur braking of maagspoeling. Braking is egter nie aan te beveel wanneer daar sprake is van vergiftiging met sterk sure of alkalië wat 'n vretende uitwerking op die slukderm het nie. Die pasiënt moet eerder melk of styfgeklitste eierwitte ingegee word wat die gif absorbeer sodat dit nie in die bloedstroom beland nie.

As die gif al opgeneem is, moet daar anders te werk gegaan word. By die meeste metaalverbindings is detoksifikasie (ontgiftiging) moontlik deur verbindings te laat vorm met EDTA (etileendiamien-eterasetaat). Arseen en kwik vorm verbindings met BAL (dimerkaprol) en verloor daardeur hul toksiese eienskappe. Naas die genoemde teengiwwe wat die gif onskadelik maak deur 'n chemiese verbinding daarmee te vorm, bestaan daar ook teengiwwe wat die werking van die gif teëwerk, byvoorbeeld nalorfien, wat by morfienvergiftiging gebruik kan word. Baie gifstowwe besit egter geen teengifstowwe nie en net die siekteverskynsels wat deur die gif veroorsaak word, kan bestry word.

Enkele vergiftigings wat baie voorkom

[wysig | wysig bron]

Gas- en koolstofmonoksiedvergiftiging vind plaas wanneer koolstofmonoksied in die bloed aan die hemoglobien (die rooibloedselle wat suurstof in die bloed vervoer) verbind op die plek waar suurstof moet bind en sodoende die suurstofvervoer blokkeer. Die belangrikste bronne van hierdie gas is uitlaatgasse van enjins, kaggels wat sleg trek en steenkoolgas wanneer dit in 'n huis vir kook- en verhittingsdoeleindes gebruik word.

Die vervanging van steenkoolgas deur aardgas het 'n belangrike oorsaak van koolstofmonoksiedvergiftiging uitgeskakel. Vir aardgas is egter 4 keer meer suurstof tydens verbranding nodig as vir steenkool of steenkoolgas. Aardgasbranders wat swak ingestel is, kan ook nog deur onvolledige verbranding koolstofmonoksied afgee.

Lekkasies van 'n motor se uitlaatstelsel kan onaangename gevolge vir die insittendes van so 'n voertuig inhou. Simptome van koolstofmonoksiedvergiftiging is hoofpyn, mislikheid, versnelde asemhaling, 'n pienk gelaatskleur, koma en uiteindelik die dood. Die terapie bestaan uit so 'n groot moontlike toediening van suurstof. Talliumvergiftiging gaan gepaard met diarree, braking (by langdurige gebruik), die uitval van die hare, verlamming en dood deur versmoring weens verlamming van die asemhalingspiere.

Tallium, wat as rottegif gebruik word, is dikwels by moord- en selfmoordpogings betrokke omdat dit maklik verkrygbaar is. Sianiedvergiftiging (onder meer deur blousuur) word gekenmerk deur die bitteramandelreuk van die pasiënt se asem, aangesien sianied die asemhalingsensieme rem. Die simptome van sianiedvergiftiging is krampe, baie vinnige asemhaling en die dood. Hoe dosisse slaapmiddels skakel die asemhalingsentrum in die brein af, waardeur die asemhaling stop en die dood volg.

Toksikologie

[wysig | wysig bron]

Toksikologie (die studie van gifstowwe en besoedeling) of gifkunde gee mens 'n begrip van die manier waarop gifstowwe die liggaam aantas, asook watter teenmiddel vir 'n besondere soort vergiftiging toegedien moet word. 'n Groot verskeidenheid teengiwwe word vandag gebruik: van melk tot serums wat van perde verkry word. Baie soorte teengif is dodelik giftig wanneer hulle in groot hoeveelhede toegedien word, die gebruik daarvan vereis aansienlike kennis en versigtigheid.

Die toksikologie bevat verskillende onderafdelings. Die geneesmiddeltoksikologie het uitsluitlik betrekking op die ongewenste werking van geneesmiddels of kombinasies daarvan. Die lewensmiddeltoksikologie is gerig op die gebruik van voedselbyvoegmiddels, waaronder bewaarmiddels en kleur- en smaakstowwe gereken word. Die besmetting van voedsel met bakterieë, waardeur voedselvergiftiging ontstaan, word ook ondersoek.

Die tipe vergiftiging word veroorsaak deur die giftige stowwe (toksiene) wat deur die bakterieë geproduseer word. Een van die bekendste en sterkste bakteriegifstowwe is botulien, wat geproduseer word deur Clostridium botulinum. Hierdie bakterium kom in voedsel voor, soos in geblikte groente wat onvoldoende gekonserveer is. Die vergiftiging (botulisme) word uitgeken aan buikpyne, braking en verlamming en kan dodelik wees weens asemhalingsprobleme of hartstilstand.

'n Ander tipe voedselvergiftiging word deur bakterieë van die genus Salmonella veroorsaak. Die toksiene wat deur hulle geproduseer word, veroorsaak maag- en dermsteurnisse. Mosselvergiftiging word veroorsaak deur saksitoksien, die produk van 'n eensellige organisme wat in die ingewande van die mossel kan voorkom en verlamming kan veroorsaak. Saksitoksien breek nie op by verhitting nie en geen teengif is daarvoor bekend nie. Omgewingstoksikologie waak oor die vergiftiging van die omgewing.

Daar word gepoog om die konsentrasie van nywerheidsgifstowwe, uitlaatgasse van voertuie en toksiese stowwe in riviere, ensovoorts, onder die MAC-waarde (maksimale toegestane waarde) te hou. Die terloopse en toevallige toksikologie het te doen met vergiftigings wat per ongeluk of weens die kriminele gebruik van gifstowwe plaasvind. Ongelukke waar kinders huishoudelike chemikalieë of geneesmiddels insluk, kom baie voor. Selfmoordpogings met (veral) 'n oordosis slaapmiddels tel ook hieronder.

Dosis

[wysig | wysig bron]
Paracelsus

Paracelsus het reeds ingesien dat die dosis van 'n stof 'n groot rol speel in die vraag van watter skade dit sal doen. Hy skryf in die eerste helfte van die 16de eeu:

Alle Dinge sind Gift, und nichts ist ohne Gift; allein die dosis machts, daß ein Ding kein Gift sei.[2] -- Paracelsus

Alle dinge is gif en niks is sonder gif; net die dosis bepaal of 'n ding geen gif is nie.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "medicine net" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Januarie 2019.
  2. Paracelsus.