Gaan na inhoud

Gereformeerde kerk Philippolis

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Gereformeerde kerk Philippolis.
Die binnekant van die Gereformeerde kerk Philippolis.

Die Gereformeerde kerk Philippolis is die vierde oudste en naaskleinste van die 21 gemeentes in die GKSA se Klassis Suid-Vrystaat. Einde 2015 was hier 12 belydende en drie dooplidmate, vergeleke met die 12 en geen van die Gereformeerde kerk Brandfort, die kleinste in die Klassis.

Philippolis in die Vrystaatse Karoo het ontstaan danksy die sendingywer van die Londense Sendinggenootskap wat reeds in 1823 ’n sendingstasie hier gestig het. Die NG gemeente Philippolis is in Oktober 1862 gestig as die negende gemeente in die Vrystaatse Kerk en in dieselfde jaar is Philippolis ingelyf by die Republiek van die Oranje-Vrystaat. In hierdie omgewing van die Suid-Vrystaat en Noordoos-Kaap het destyds baie Doppers gewoon. Uit die notules van die Gereformeerde kerk Colesberg blyk dit dat ds. L.J. du Plessis op 18 November 1882 berig het dat lidmate op en om Philippolis, wat meestal van Colesberg afkomstig was, hul eie gemeente wou stig. Drie en twintig manslidmate het ’n versoekskrif onderteken en op 18 Mei 1883 aan die kerkraad van Colesberg voorgelê. Kort daarna is die Gereformeerde kerk Philippolis afgestig.

Nog in dieselfde jaar is ’n tender vir die bou van ’n kerkie van 50 by 24 voet aanvaar, maar banke en ’n preekstoel was nie by die aanvanklike boukoste ingereken nie. Op 30 Junie 1883 is die eenvoudige maar smaakvolle kerkgebou in gebruik geneem; blykbaar is die tender dus aanvaar nog voor die gemeente afgestig het. Vandag nog pryk die jaartal 1883 op die voorgewel. In later jare is die kerkgebou ietwat vergroot.

Die geskiedkundige binnekant het in ’n groot mate behoue gebly met ’n pragtige preekstoel en kerkbanke. Hierdie kerk staan in Tobie Mullerstraat, wat genoem is na die belowende jong dr. Tobie Muller, die plaaslike NG predikant wat in 1918 ’n slagoffer van die griepepidemie geword het.

Heelwat besonderhede van die gemeente se lang geskiedenis is nou vergete omdat die 19de-eeuse notule boek tydens die Tweede Vryheidsoorlog verlore geraak het, nes die geval was met dié van die Gereformeerde kerk Fauresmith, wat in 1865 gestig is, maar in 2010 ontbind het toe daar feitlik geen lidmate oorgebly het nie.

Al was Philippolis nooit ’n groot gemeente nie, het die sieletal tog in die 1920's tot meer as 200 toegeneem en selfs in 1960 nog op 59 gestaan, maar in sy hele bestaan het Philippolis nog nooit ’n inwonende Gereformeerde predikant gehad nie. Met die jare was die gemeente dus in kombinasie- en konsulentsbediening met verskeie gemeentes.

Predikante

[wysig | wysig bron]
  1. De Bruin, Johannes Lodewicus, 1971–1977 (in kombinasie met Koffiefontein en Fauresmith)
  2. Viljoen, Werner, 1998 – 2001 ( in kombinasie met Bethulie)
  3. Van der Walt, dr. Sarel Petrus, 2003 – 2005 (in kombinasie met Bethulie)
  4. Badenhorst, Lourens Jurie, 2013 – hede (bedieningsooreemkoms; predikant van Colesberg, Philipstown en De Aar)

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
  • Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.