Dricky Beukes
Dricky Beukes (*29 Desember 1918, Prieska – † 9 November 1999, Belville) was 'n Afrikaanse skrywer van romans, kortverhale en radiovervolgverhale.[1] Sy het meer as honderd Afrikaanse romans geskryf[2] en hope kortverhale en talle Afrikaanse radiovervolgverhale gelewer, waarvan talle maande lank voortgegaan het, veral op die destydse kommersiële radiosender Springbokradio. 'n Frase wat landwyd bekend geword het, was dié inleiding tot die radiovervolgverhaal Die Indringer: ’n Verhaal wat elke moederhart sal roer.[3]
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Hendrika Johanna van Staden is op 29 Desember 1918 in die Noord-Kaap op die plaas Seekoebaard in die distrik Prieska gebore as die jongste van dertien kinders. Haar ma is ’n nooi Visser. Op driejarige ouderdom verhuis die gesin na Karos naby Upington, op die oewers van die Garieprivier in die Noord-Kaap. Sy begin haar skoolopleiding op Karos en sit dit dan voort aan die Hoër Handelskool in die Paarl, waar sy matrikuleer. Na skool slaag sy die Staatsdienseksamen en aanvaar ’n betrekking in die Poskantoor, waarna sy posmeester word op Karos.
Op 4 Julie 1942 trou sy met die onderwyser Abraham Opperman Beukes van Prins Albert, wat later die eerste hoof word van die Laerskool Vredelust in Bellville en self die skrywer is van twee kinderboeke.[4] Die egpaar vestig hulle in Bellville en bou later ’n huis in Tygerbergheuwels. Hulle het drie kinders, naamlik ’n seun (Van Staden Beukes) en twee dogters (Brenda en Wilmari). Op Bellville word sy redakteur van die koerantjie Die Noordwester. Sy skryf die eerste rubriek vir tieners in Suid-Afrika en lewer vir lank gereelde rubrieke lewer vir Die Taalgenoot onder die titel Langs die spoorstawe. Vir die Oudtshoorn Courant skryf sy ’n rubriek onder die titel My land, my mense en vir ou mense behartig sy die Oom en Tannie Rubriek. Terwyl sy op Leeu-Gamka in die Noordwes-Kaap woonagtig is, reël sy met Pieter de Waal om sy gewilde Koffiehuiskonsert daar aan te bied, waarmee sy genoeg geld insamel om ’n kliniek op die dorp te laat bou. Na aftrede vestig die egpaar hulle teen die hange van Tygerberg in Bellville.[4] Haar man is in Maart 1993 in Durbanville oorlede. Dricky is op 9 November 1999 in Huis André van der Walt in Bellville aan lewerkanker oorlede.[5]
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Reeds as jong kind skryf sy verhaaltjies, wat sy sorgvuldig wegbêre sodat dit niemand dit kan lees nie. Haar eerste kortverhaal word in Die Huisvrou gepubliseer toe sy maar agtien jaar oud is, terwyl haar eerste roman (Madelief) na die dood van haar moeder in 1945 gepubliseer word. Eindelik skryf sy 110 Afrikaanse romans en vir tydskrifte verskeie vervolgverhale en kortverhale. Van haar tydskrifvervolgverhale word later in boekvorm uitgegee, waaronder Alsace en Lorraine, wat oorspronklik in Die Brandwag verskyn het. Sy is ook bekend vir haar Afrikaanse radiovervolgverhale, waarvan talle vir verskeie maande hoofsaaklik op die destydse Springbokradio uitgesaai is. Veral bekend is Die indringer, wat duisende luisteraars lok, vir ses jaar uitgesaai word en later ook in boekvorm uitgegee word. Ook die motto, “’n verhaal wat elke moederhart sal roer”, en die kenwysie raak baie bekend. Hierdie verhaal is op 16 Mei 1960 vir die eerste keer uitgesaai en word binne ’n jaar hierna die gewildste dagprogram op Springbokradio. Ander radiovervolgverhale is Skaduwees oor Summerdown, Blinkwater, Die geel karavaan en Dokter Karenien. Sy skryf ook die skoollied vir Laerskool Vredelust in Bellville en van haar foto-romans word in Rapport Ekstra gepubliseer. Haar liefdesromans word hoofsaaklik uitgegee as deel van boekklubs se uitgawes.[6]
In Altyd jou eie (1952) smag die verpleegster Nelia na liefde, maar die man wat sy liefhet is nie vir haar beskore nie. Sy veg egter terug na teleurstellings en vind uiteindelik geluk.
Verbode Paradys (1952) is ’n boek van liefde wat soek en paaie wat oor mekaar kruis, van inkeer en erkenning, berou en belydenis, waar gemengde geluk later gesuiwerde geluk word.
Grenslyne (1957) is ’n spanningsverhaal, waar die hoofkarakter romanties deurmekaar raak met ’n skurk. Almal waarsku haar, maar sy volg haar eie kop.
In Gebaande weë (1958) verbreek ds. Ernie Bosman sy verlowing met Hester en trou met ’n ander vrou. Dit laat Hester verbitterd en sy los die onderwys en kwalifiseer as verpleegster. In haar verbittering moet sy nege jaar later vir Maatjie Bosman, Ernie se vrou, verpleeg. Maatjie sterf en Hester wyk uit na die platteland, waar sy in die opregtheid van die omgewing haar bitterheid oorkom.
Die indringer (1964) wat aanvanklik as radiovervolgverhaal bekend raak, se verhaal wentel rondom ’n aangenome kind en die moeder wat haar gaan uitsoek het. So word die belangrike rol wat die pleegmoeder in aangenome of pleegkinders se lewens speel, en die vooroordeel waaraan sulke kinders onderwerp word, belig.
Hanri trou in Duinepad (1967) met Arnoldus, maar toe hulle op die spogplaas Summerdown in Suidwes-Afrika aankom, is dit duidelik dat Arnoldus haar nie alles oor sy verlede vertel het nie. Die wilde Lyda Junius is duidelik ontstig oor haar huwelik met Arnoldus en Lyda neem kort daarna haar intrek in Summerdown onder voorwendsel dat Arnoldus ’n sekretaresse nodig het. Ook Kalahari, Arnoldus se huishulp, is nie van plan om Hanri te duld in “sy huis” nie. In Dawie Greyling, ’n oujongkêrelboer van die omgewing, vind Hanri onverwags iemand wat haar vreemde en vyandige situasie verstaan. Lyda Junius is egter nie van plan om op te gee nie en sy hou nie op veg vir dit wat sy wil hê nie.
Meetsnoere (1967) beeld die stryd uit wat die baanbreker oewerboere aan die Oranjerivier gestry het om die grond mak te maak en geestelik en liggaamlik te oorleef.
Een wat ’n muur afbreek (1968) is ’n vervolg op Meetsnoere.
In Die hoë muur (1969) vry Johan na Erika en Marietie is net Erika se jong sussie. Erika se ingesteldheid is om in te palm en omdat Johan te arm is na haar sin, los sy hom. Johan kwalifiseer as internis en wanneer hy weer vir Marietie ontmoet, is sy groot en ’n verslaggeefster. Hulle raak verlief op mekaar, maar Erika (getroud met drie kinders) kyk nou met ander oë na Johan wat intussen bekend en welvarend geword het.
In Dis lente in die Boland (1975) trou Donni Malan met Christiaan Boshof om van Nico Pelser te vergeet. Hulle gaan bly op Christiaan se Bolandse plaas, Soetedal. Die huishoudster Mia wil haar nie daar hê nie en later blyk dit dat een van die mense op die plaas ’n moordenaar is. Sy moet baie ervarings meemaak voordat dit weer lente in die Boland en in haar hart kan wees.
Liefde van gister (1976) is die verhaal van Maddie en Jankoos. As hoërskoolkinders is hulle verlief op mekaar en sweer ewig trou, maar op universiteit ontmoet Maddie die wêreldwyse James. Jankoos is besig met sy militêre opleiding en kan nie wag om vir Maddie te sien tydens sy verlof nie, maar sy is nie meer die meisie wat hy geken het nie.
Dettie keer in Mevrou van Secunda (1978) na ’n lang tyd terug na haar geboorteplaas, Kraankuil. Haar ma is oorlede en haar pa het weer getrou, met ’n bloedjong vrou met wie Dettie nie oor die weg kom nie. Haar jeugliefde, Steyn Gericke, is ook intussen getroud, maar begin weer na haar vry. Die buurplaas, Secunda, kry ’n nuwe baas in die aantreklike Fritz Neethling, maar ook hier is daar ’n mevrou wat die septer swaai. Dan word Dettie se broer byna vermoor deur gif in sy wyn.
In Die korhaan roep ver (1985) gaan bly die onderwyseres Johanni Muller en dominee Fritz Venter op Witvlei, waar beide probeer wegkom van die pyn van mislukte verhoudings. Hulle vind dat hulle nie so maklik van hulle verlede en die mense daarin kan ontsnap nie en Cecilia, Fritz se vorige geliefde, en haar ouers daag op die dorp op. ’n Hewige storm wat Witvlei van die buitewêreld afsny, dryf dinge op ’n spits.
Die Kamberg-reeks, Kamberg se wêreld (1982), Kamberg se mense (1986) en Kamberg se kinders (1988) beeld die wêreld langs die Oranjerivier naby Upington uit, waar die skryfster haar kinderjare en jeug deurgebring het. Die verteller is Ragie en die verhale is op outentieke jeugherinneringe gegrond.
Sy bundel tien Kersspele in die dramabundel Kom saam na Bethlehem (1983).
Meerkat voor gat (1983) is ’n bundel kortverhale.
Eerbewyse
[wysig | wysig bron]In 1982 maak ’n uitgewery ’n toekenning aan haar uit erkentlikheid vir haar bydrae tot die skryfkuns op baie terreine.
Publikasies[7]
[wysig | wysig bron]Jaar | Publikasie |
---|---|
1946 | Madelief |
1947 | Siel, jy het baie goed |
1950 | Karola |
1951 | Jare van leed
Versoening |
1952 | Altyd jou eie
Langs ’n ompad Ryp vrugte Verbode paradys |
1953 | Grenslyne
Die hande van my moeder |
1954 | Belydenis
Gebarste mure |
1955 | Anderkant die rante
Laat lente Die sterkste band |
1956 | Antwoord van ’n geslag |
1957 | Die onbekende verpleegster
So diep in my hart |
1958 | Een bring die offer
Gebaande weë |
1959 | En nou – vir ewig en altyd
Salomé Waarheid die hele waarheid |
1960 | Uit die verre jare
Wie is my naaste? |
1961 | Die boeteling
Tussen die duine |
1962 | Dokter Nelia Eksteen |
1963 | Liefdesweë
Mooiste liefde |
1964 | Die indringer
’n Seun vir Nebe |
1965 | Droom van Madelein
Winter kom later |
1966 | Al lê die berge nog so blou
Deur liefde gebind Die goue gety Twee paaie Verlore liefde |
1967 | Alles net vir jou
Die blomme bloei weer Duinepad Die indringer – deel 2 Meetsnoere Onbekende weë Die vaal valk |
1968 | Hoe groot die offer
Onbetaalde rekening |
1969 | Die hoë muur
Karola |
1970 | Wie die liefde erf
Die wind waai waar hy wil |
1971 | Eendag… miskien
Een wat ’n muur afbreek Waar die liefde woon |
1972 | Een van La Rhone
Ek was die vreemdeling |
1973 | Grense
So mooi is die liefde |
1974 | Alsace en Lorraine
Ek het die wind gejaag Die groot chirurg Die jare roep |
1975 | Blinkwater
Brandglas van die tyd Dis lente in die Boland Nuwe begin |
1976 | Liefde van gister |
1977 | Die jare van ons herfs
Pad van verlange |
1978 | Anderkant die verste ster
Mevrou van Secunda Nes tussen die sterre Die smaad van Kroondal Vaarwel ou Driefonteintjie Omnibus: Dokter Nella Eksteen; Wie is my naaste; Die hoë muur |
1979 | Ken jy die vrou – deel 1
Ken jy die vrou – deel 2 Maar die grootste hiervan Om meer te kan gee |
1980 | Ken jy die vrou – deel 3
’n Tyd vir stilstaan Omnibus: Legkaart van die lewe; Moeder se dagboek Waarmee sal ek versoening doen |
1981 | Anderkant die rante
Die liefde is my offer Liefde op Kanetberg Skoenlappernooi Waar is ver Tanja? |
1982 | En more is nuut
Kamberg se wêreld Die pad vorentoe Roep van die Sonskynwoud Omnibus (En môre is nuut): Die wind waai waar hy wil; Waar die winde gaan rus het |
1983 | Kom saam na Bethlehem
Meerkat voor gat |
1984 | Alles net vir jou
Antwoord van die nageslag Velde van offergawes Waar die grootpad eindig |
1985 | Dokter Karenien
Dricky Beukes tweeluik Die korhaan roep ver Waar die grootpad eindig Omnibus: Karola; Langs ’n ompad |
1986 | Kamberg se mense
Die son sal weer skyn |
1987 | Om die reënboog se goud te soek |
1988 | Kamberg se kinders
Die liefde loop ’n ompad |
Bronnelys
[wysig | wysig bron]Boeke
[wysig | wysig bron]- Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
Internet
[wysig | wysig bron]- Volksblad: http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/1999/11/10/3/9.html[dooie skakel]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- ↑ Greeff, Apie. Honderd… nie uit nie. Rooi Rose, 19 Oktober 1983
- ↑ Hoffman, Hoffie: Die Burger. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1999/11/10/3/34.html Geargiveer 29 Junie 2013 op Wayback Machine
- ↑ 4,0 4,1 Remembered: http://remembered.co.za/obituary/view/696[dooie skakel]
- ↑ Hoffman, Hoffie. Bobaas-storieverteller sterf aan lewerkanker. Die Burger, 10 November 1999
- ↑ Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Beukes,_Dricky
- ↑ Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-n85-8441/