Gaan na inhoud

Cas Janse van Vuuren

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Cas Janse van Vuuren
Gebore
Jan Casper Gerhardus Janse van Vuuren

20 Februarie 1930
Sterf3 Junie 2014
NasionaliteitSuid-Afrika
BeroepAkademikus
Bekend virRektor van UNISA
EggenootIda Naudé
KindersDr. Karin Franzsen
GeloofN.G. Kerk

Prof. Cas Janse van Vuuren was van 1989 tot 1993 die rektor en visekanselier van UNISA.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Van Vuuren is op 20 Februarie 1930 in die distrik van Nylstroom (nou Modimolle) gebore. Hy matrikuleer van die Nylstroomse Hoërskool en verwerf 'n onderwysdiploma in 1951 en 'n MA-graad in Duits.[1]

In 1958 doen hy navorsing vir sy doktorale proefskrif in pedagogie in Duitsland en Switserland met 'n beurs van die Duitse regering. Hy ontvang sy PhD van die Universiteit van Pretoria in 1963, gevolg deur 'n BA (Hons)-graad die daaropvolgende jaar in filosofie, van dieselfde universiteit.

Van Vuuren is in 1967 deur die Goethe-instituut, 'n wêreldwye kulturele instituut, genooi om verskeie onderrigsentrums in Duitsland te besoek.

Hy was 'n onderwyser by die Afrikaanse Hoër Seunskool, Hoërskool Brits, en vir ongeveer nege maande by die Gimnasium vir seuns in Gummersbach, Duitsland, voordat hy in 1964 by UNISA aangesluit het. Hy dien as 'n senior lektor waarna hy in 1968 tot professor en hoof van die Departement van Fundamentele Pedagogiek bevorder is.

In 1971 is hy as assistent van die rektor[2] en die volgende jaar as dekaan van die Fakulteit van Onderwys aangestel.

Die Cas van Vuurengebou op die Muckleneuk-kampus is op 19 November 1993 amptelik na hom vernoem. Een van die hoogtepunte van sy termyn was die aankoop van 'n Rieger Concert-orrel vir wat in die hedendaagse ZK Matthews-saal staan.

Van sy persoonlike prestasies sluit in: die DAAD-beurs om in Duitsland te studeer, sy aanstellings as 'n raadslid van die Pretoria Technikon, raadslid en lid van die senaat van die Pretoriase Kollege vir Verdere Opleiding, lid van die advieskomitee van die Pretoria Onderwyskollege, en lid van die Transvaalse Onderwysersvereniging se Uitvoerende Komitee.

Van Vuuren het 'n Duitse handboek (saam met G.A. Venter) asook verskeie artikels oor fundamentele pedagogiek gepubliseer. Hy was die hoof nasiener vir Duits in die destydse Transvaalse matriekeksamen. Hy was 'n diaken in die N.G. Kerk en het op die direksie van Laerskool Anton van Wouw gedien. Hy was ook 'n lewenslange lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Hy is op 3 Junie 2014 oorlede nadat 'n maagseer by hom gediag­noseer is en die bloed in sy longe beland het. Dit was sy wens om nie met masjiene aan die lewe gehou te word nie, en dit is derhalwe afgesit.[3]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Former Vice-Chancellor passes away, besoek op 9 Junie 2014
  2. Boucher, Maurice. 1973. Spes in arduis: 'n geskiedenis van die Universiteit van Suid-Afrika. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika, bl. 374: Die afsluiting van die debat oor die Johannesburgse universiteit is gevolg deur jare van intense bedrywighede, wat 'n swaar las op die rektor se skouers geplaas het. Hy moes nie alleen oor die daaglikse bestuur van die reuse-inrigting toesig hou nie, maar ook baie tyd en kragte wy om die universiteit gedurig onder die aandag van die publiek te hou onderwyl die nuwe gebou op Muckleneukrant begin vorm aanneem het. Prof. Pauw se taak is enigermate verlig toe daar besluit is om van 1969 af 'n lid van die dosentekorps telkens vir 'n jaar as assistent van die rektor aan te wys. Prof. S.J. Malan het in dié hoedanigheid die eerste jaar opgetree, opgevolg deur prof. Marius Wiechers van die fakulteit Regte en prof. J.C.G. Janse van Vuuren van die fakulteit Opvoedkunde.
  3. Prof. Cas van Unisa sterf Geargiveer 12 Junie 2014 op Wayback Machine, Beeld, 8 Junie 2014