Aleksander II van Rusland
Aleksander II | |
---|---|
Keiser van die Hele Rusland | |
Aleksander II, die "Tsaar-bevryder" | |
Dinastie | Romanof |
Bewind | 1855–1881 |
Kroning | 7 September 1856 |
Volle naam | Aleksander Nikolajewitsj Romanof |
Ander titels | Tsaar Groothertog van Finland Koning van Pole (tot 1867) |
Gebore | 29 April 1818 |
Gesterf | 13 Maart 1881 |
Sint Petersburg | |
Voorganger | Nikolaas I |
Opvolger | Aleksander III |
Gade | Marie van Hesse-Darmstadt Katharina Michailowna Dolgoroekowa (morganaties) |
Kinders | Aleksandra, Nikolaas, Aleksander III, Maria, Wladimir, Aleksei, Sergei, Paul |
Vader | Nikolaas I |
Moeder | Charlotte van Pruise (Aleksandra Fjodorowna) |
Aleksander II Nikolajewitsj (Russies: Александр II Николаевич) (Moskou, 29 April 1818 — Sint Petersburg, 13 Maart 1881) was van 1855 tot met sy sluipmoord in 1881 keiser van Rusland.
Bewind
[wysig | wysig bron]Aleksander II se hervormings het groot byval gevind. Hy begenadig in 1856 die Dekabriste en skaf in 1861 lyfeienskap af, wat hom die bynaam "Bevryder van Rusland" besorg. Dit word egter veral uit ekonomiese oorwegings gedoen. Aleksander wil ’n groot klas onafhanklike en selfstandige boere skep en daarnaas ’n groep mense wat Rusland se nywerheidsbehoeftes kan bevredig. Hy voer ook gedeeltelike selfbestuur in met die skep van zemstwo's. Dit word egter net in die sentrale dele gedoen omdat Aleksander bang is dit versterk die separatistiese idees in die grensgebiede. Hy verbeter ook regspraak, verslap sensuur en verkort in 1859 die diensplig in die leër van 25 tot 15 jaar.
Hy voer ook hervormings deur in die onderwys. Danksy hom word in die 1860's nuwe universiteite gestig. Tussen 1867 en 1869 voer hy kerklike hervormings deur. Die "Tsaar-bevryder" bring ook ’n einde aan die willekeur van die burokrasie en polisie. So verander hy Rusland geleidelik van ’n polisiestaat in ’n regstaat geskoei op die Europese model.
Ná die tweede Poolse opstand in 1863, wat hy hardhandig onderdruk, word sy politiek behoudender. Tydens sy bewind is Rusland se grondgebied aansienlik uitgebrei, veral in Asië. Die keiser bedwing die opstandige stamme van die Kaukasus. Die toenemende aanslae van die nihiliste beantwoord hy met streng polisiemaatreëls. Terselfdertyd laat hy egter ’n soort grondwet ontwerp wat verteenwoordiging van die zemstvo's in die regering moontlik maak. Die dag waarop hy die plan goedkeur, sterf hy ná ses mislukte aanslae in ’n sluipmoordaanval deur die rewolusionêre Narodnaja Wolja. Sy beleidrigtings was taamlik teenstrydig, en dit het veroorsaak dat die konserwatiewe hom te liberaal gevind het en die liberale te konserwatief. Hy word opgevolg deur sy meer konserwatiewe seun Aleksander III.
Huwelike en kinders
[wysig | wysig bron]Aleksander was sedert 1841 getroud met Marie van Hesse-Darmstadt (Maria Aleksandrowna), dogter van Lodewyk II van Hesse-Darmstadt. Uit die huwelik is agt kinders gebore:
- Aleksandra Aleksandrowna (30 Augustus 1842 — 10 Julie 1849)
- Nikolaas Aleksandrowitsj (20 September 1843 — 24 April, 1865) – hy was verloof aan prinses Dagmar van Denemarke (Maria Fjodorowna), wat later met Aleksander III sou trou
- Aleksander III Aleksandrowitsj (26 Februarie 1845 — 20 Oktober 1894)
- Wladimir Aleksandrowitsj (22 April 1847 — 17 Februarie 1909)
- Aleksei Aleksandrowitsj (14 Januarie 1850 — 27 November 1908)
- Maria Aleksandrowna (17 Oktober 1853 — 24 Oktober 1920)
- Sergei Aleksandrowitsj (11 Mei 1857 — 17 Februarie 1905)
- Paul Aleksandrowitsj (3 Oktober 1860 — 29 Januarie 1919)
Marie is op 3 Junie 1880 oorlede. Op 18 Julie [O.S. 6 Julie] 1880 het Aleksander II en sy minnares, Katharina Dolgoroekowa, in die geheim 'n morganatiese huwelik op Tsarskoje Selo aangegaan.[1] Dit het 'n groot skande aan die hof en in sy familie veroorsaak, deels omdat dit binne die routydperk van 40 dae ná sy eerste vrou se dood was.[1] Aleksander het aan sy tweede vrou die titel prinses Joerijefskaja gegee en wettige status aan hulle kinders verleen.[1]
Voor die huwelik het hulle vier kinders gehad:
- Prins Georgi Aleksandrowitsj Joerijefski
- Prinses Olga Aleksandrowna Joerijefskaja
- Prins Boris Aleksandrowitsj Joerijefski
- Prinses Katharina Aleksandrowna Joerijefskaja
Stamboom
[wysig | wysig bron]Pieter III van Rusland | ||||||||||||||||
Paul van Rusland | ||||||||||||||||
Katharina II van Rusland | ||||||||||||||||
Nikolaas I van Rusland | ||||||||||||||||
Aleksander II van Rusland | ||||||||||||||||
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 * Van der Kiste, John. Alfred: Queen Victoria's Second Son. Fonthill Media, 2015. ISBN 978-1781553190.(Kindle-uitg.)
Verdere leesstof
[wysig | wysig bron]- Radzinsky, Edvard, Alexander II: The Last Great Tsar. New York: The Free Press, 2005.
- David G. Rowley, Exploring Russia's Past: Narrative, Sources, Images (2006)
- Moss, Walter G., Alexander II and His Times: A Narrative History of Russia in the Age of Alexander II, Tolstoy, and Dostoevsky. Londen: Anthem Press, 2002 (aanlyn Geargiveer 17 September 2006 op Wayback Machine beskikbaar)
Skakels
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Alexander II van Rusland