Canterbury
Canterbury | |
---|---|
Stad | |
Die Stourrivier. | |
Koördinate: 51°17′00″N 1°5′00″O / 51.28333°N 1.08333°O | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Engeland |
Graafskap | Kent |
Bevolking | |
• Totaal | 55 240 |
Tydsone | UTC+00:00 (MGT) |
• Somertyd | UTC+01:00 (BST) |
Canterbury (uitgespreek /ˈkæntərbᵊri/) of Kantelberg is ’n klein stad in die suidooste van Engeland, bekend vir sy indrukwekkende 11de-eeuse katedraal, die hoofkerk van die Kerk van Engeland.[1]
Canterbury is Engeland se kerklike hoofstad wat steeds deur Middeleeuse boukuns en sy Anglikaanse katedraal oorheers word. Die stad is in die Suidoos-Engelse graafskap Kent langs die historiese Watling Street geleë, 'n Romeinse pad wat die antieke Londinium (Londen) met die seehawe van Dover verbind het. Canterbury is daarnaas ook die eindpunt van die Pilgrims' Way, 'n prehistoriese roete wat later as pelgrimsroete na die heiligdom van St Thomas Becket, Engeland se bekendste Christelike martelaar wat hier in 1170 as aartsbiskop vermoor is, gebruik is.
Canterbury was een van die gasheerstede tydens die Krieketwêreldbeker 1999.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Canterbury is aangeteken as die hoofnedersetting van die Keltiese stam van die Cantiaci, wat die grootste deel van die hedendaagse Kent bewoon het. In die 1 ste eeu nC het die Romeine die nedersetting verower en dit Durovernum Cantiacorum genoem. Die Romeine het die stad herbou, met nuwe strate in 'n roosterpatroon, 'n teater, 'n tempel, 'n forum en openbare baddens. Alhoewel hulle nie 'n groot militêre garnisoen onderhou het nie, het die dorp se posisie op Watlingstraat relatief tot die belangrikste Kentiese hawens van Rutupiae (Richborough), Dubrae (Dover), en Lemanae (Lymne) dit aansienlike strategiese belang gegee. In die laat 3de eeu, om te verdedig teen aanval van barbare, het die Romeine 'n grondbank en muur met sewe poorte rondom die stad gebou, wat 'n oppervlakte van 130 akker, of 53 hektaar, ingesluit het.
Ten spyte daarvan dat dit gereken is as een van die 28 stede van die Sub-Romeinse Brittanje, blyk dit dat nadat die Romeine Brittanje in 410 verlaat het, Durovernum Cantiacorum ontruim was vir ongeveer 100 jaar, behalwe vir 'n paar boere. Die dorp het geleidelik verval. Oor die volgende 100 jaar het 'n Angel-Saksiese gemeenskap binne die stadsmure gevorm, soos Jutse vlugtelinge daar aangekom het, en moontlik met die plaaslike bevolking ondertrou het. Die dorp se nuwe belangrikheid het gelei tot die herlewing daarvan, en ambagte het ontwikkel in pottebakkery, tekstiele en leer. Teen 630 is goue munte by die Canterbury-munt geslaan. In 842 en 851 het Canterbury groot lewensverliese tydens Deense strooptogte gely.[2][3][4][5]