Gaan na inhoud

2007 Mianmarese anti-regeringsbetogings

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Weergawe deur Laurens (besprekings | bydraes) op 06:55, 29 September 2007 (Tutu uitspraak)
Betogers in Jangon. Die boodskap op die banier lees Nie-geweld : Nasionale Beweging in Birmaans

Die 2007 Birmaanse anti-regeringsbetogings is 'n golf betogings wat op 15 Augustus 2007 in Mianmar (wat ook as Birma bekend staan) begin het en steeds voortduur. Die betogings het begin nadat die regerende militêre junta brandstofsubsisdies opgehef het wat gelei het tot 'n styging in die prys van brandstof van sowat 500%.[1] Die aanvanklike betogings wat deur opposisie politieke aktiviste en studente gelei is vinnig en fel onderdruk en tientalle betogers is gearresteer en aangehou.

Op 18 September is nuwe betogings deur duisende Boeddhiste monnike begin. Nadat die betogings aanvanklik vreedsaam verloop het, het die regering op 26 September in weerwil van internasionale oproepe tot beheersing op brutale wyse ingegryp om die protesaksie te onderdruk.[1][2] As deel van die regeringsoptrede is aandklokreëls in Jangon en Mandalay ingestel, openbare Internet toegang is afgesny, traangas is gebruik om betogings op te breek, honderde betogers is in hegtenis geneem en monnike is geslaan. Daar is ook met masjiengewere op betogers gevuur en 'n aantal betogers en 'n Japannese fotograaf is doodgeskiet.

Die Mianmarse regeringsoptrede is wêreldwyd verdoem en sanksies is deur die VSA ingestel terwyl die Europese Unie besig is om bestaande sanksies teen die land uit te brei. Beswaar is ook in verskeie lande op diplomatieke vlak en by die Verenigde nasies aangeteken insluitend deur buurlande soos Indië en Thailand. Die VSA en die Europese Unie het ook 'n oproep gemaak vir strafmaatreëls, samesprekinge met die opposisie leier en Nobelpryswenner Aung San Suu Kyi en etniese minderheidsgroepe deur die Verenigde Nasies Veiligheidsraad, maar Sjina, wat as permanente lid van die Veiligheidsraad vetoreg het, het egter aangedui dat die land nie ten gunste van sulke stappe is nie. Rusland en Sjina, wat vriendskaplike bande met die Mianmarse regime het, het in Januarie 2007 hulle vetoreg gebruik teen 'n ontwerpsresolusie, wat deur die VSA opgestel is, waarin die junta versoek is om die vervolging van minderhede en die opposisie te staak.

Suid-Afrika se Nobelprys vir Vrede wenner Desmond Tutu het 'n beroep gedoen op Sjina om in te gryp om "hierdie brutale mans aan te sê om hulle brutaliteit te staak". Hy het bygevoeg dat as Sjina nie sy invloed oor die regering sou gebruik nie hy hom sou skaar by 'n veldtog om die Beijing Olimpiese spele in 2008 te boikot.[3]


Verwysings