Albert A. Michelson
Albert Abraham Michelson (Strzelno (Posen), 19 Desember 1852 – Pasadena (Kalifornië), 9 Mei 1931) was 'n Amerikaanse fisikus gebore in Pruise, nou Pole, wat veral bekend was vir sy werk oor die meting van die spoed van lig, met 'n eksperimentele interferometer, en in die besonder deur die Michelson-Morley-eksperiment.
Biografie
wysigMichelson is in 'n Joodse gesin gebore. Op die ouderdom van drie het hy saam met sy ouers, Samuel en Rosalie Przlubska Michelson, na die Verenigde State geëmigreer. Hy het grootgeword in die goudmyndorpe Murphys Camp, Kalifornië en Virginia City, waar sy pa 'n handelaar was. Gedurende sy hoërskooljare het hy by sy tante, Henriette Levy – die ma van die skrywer Harriet Lane Levy – gebly.
In 1869 het hy 'n spesiale aanstelling by die Verenigde State se Vlootakademie van president Ulysses S. Grant ontvang. Gedurende sy vier jaar as adelbors by die akademie het Michelson uitgeblink in optika, hitte, klimatologie en tekenkuns. Nadat hy in 1873 gegradueer het en na twee jaar op see, het hy in 1875 na die Vlootakademie teruggekeer. Hy was 'n instrukteur in fisika en chemie tot 1879, toe hy by die Nautical Almanac Office in Washington, D.C. (deel van die Verenigde State se Naval Observatory) gestasioneer was om saam met Simon Newcomb te werk.
Die volgende jaar is 'n sabbatsjaar aan hom toegestaan om sy studies in Europa voort te sit. Hy het die universiteite van Berlyn en Heidelberg, die Collège de France en die École Polytechnique in Parys besoek. Na twee jaar in Europa het hy na die Verenigde State teruggekeer, uit die vloot bedank en 'n pos as assistent-professor aan die Case Western Reserve-universiteit in Cleveland aanvaar. In 1883 is hy aangestel as professor in fisika, van 1889 tot 1892 was hy professor aan Clark Universiteit in Worcester en van 1892 tot 1929 professor en eerste hoof van die fisika fakulteit aan die nuutgestigte Universiteit van Chicago.
Werk
wysigMichelson se navorsing is hoofsaaklik op die gebied van lig en optika. Terwyl hy 'n offisier in die Amerikaanse vloot was, het hy 'n proses begin om die spoed van lig akkuraat te meet. Om dit te bereik, het hy die draaispieëlmetode van die Franse fisikus Léon Foucault verbeter. Tussen die Kaliforniese berge Mount Wilson en Mount San Antonio het hy die spoed van lig op 299 798 km/s bepaal.
Saam met Edward Morley het Michelson 'n vernuftige eksperiment in 1887 in Cleveland, Ohio, uitgevoer om die spoed van die Aarde relatief tot die eter te meet - 'n hipotetiese medium waardeur lig vermoedelik voortplant. Met behulp van 'n interferometer wat hy ontwerp het, die Michelson-interferometer, is 'n ligstraal in twee strale verdeel. Die strale is via spieëls teen loodregte hoeke van mekaar wegbeweeg en op 'n sekere punt weer bymekaar gebring.
Die idee agter hierdie eksperiment was dat as die Aarde relatief tot die eter beweeg, die spoed van die twee ligstrale sal verskil en 'n interferensiepatroon van lig en donker patrone sal sigbaar wees. Die Michelson-Morley-eksperiment kon óf nie hierdie verskil vind nie, óf hulle het ontdek dat die spoed van lig dieselfde is in alle rigtings – die Aarde se beweging het geen effek op die spoed van lig gehad nie.[1] Dit het die weg gebaan vir Einstein se spesiale relatiwiteitsteorie.
In 1913 het Michelson begin om die Aarde se getye by die Yerkes-sterrewag te meet om te ondersoek of die Maan en Son die Aarde se veerkragtigheid beïnvloed het. Die meeste wetenskaplikes het gedink die aarde is so styf en elasties soos yster. Met sy metings kon Michelson die soliditeit en buigsaamheid van die Aarde bepaal en tot die gevolgtrekking gekom dat die Aarde aan die binnekant vloeibaar of semi-vloeibaar was en 'n dun, relatief harde kors het. Met behulp van 'n interferometer van ses meter wat aan 'n teleskoop gekoppel is, het hy en Francis Pease daarin geslaag om die oënskynlike (hoekige) deursnee van Betelgeuse in 1920 te meet; 'n eerste wesenlik akkurate meting van 'n ster anders as die Son.[2]
Erkenning
wysigMichelson was die eerste Amerikaner wat die Nobelprys vir Fisika (1907) ontvang het vir sy presisie optiese instrumente en vir die spektroskopiese en metrologiese ondersoeke wat daarmee uitgevoer is. Dieselfde jaar is die Copley-medalje aan hom toegeken. Voor dit het hy die Rumford-prys in 1888 en die Matteucci-medalje in 1903 ontvang. Hy is verder bekroon met die Elliott Cresson-medalje (1912), die Henry Draper-medalje (1916), die Benjamin Franklin-medalje (1923), die Duddell-medalje (1929) en die goue medalje van die Royal Astronomical Society in 1923.
Michelson was lid van die Royal Society, die National Academy of Sciences, die American Physical Society (APS) en die American Association for the Advancement of Science (AAAS).
Hy was ook een van die eerste wetenskaplikes wat voorgestaan het om die lengte van die internasionale meter te baseer op die golflengte van die kadmium-spektraallyn, wat in 1960 sou gebeur. Michelson is ook die man wat 'n meganiese toestel uitgevind het om Fourier-ontledings te maak: die Harmoniese Ontleder. In die laat 1890's het hy die eerste prototipes van hierdie Harmoniese Ontleder gebou, wat omstreeks die eeuwisseling gekommersialiseer is.[3]
Verwysings
wysig- ↑ A.A. Michelson, E.W. Morley, 1887, On_the_Relative_Motion_of_the_Earth_and_the_Luminiferous_Ether|On the Relative Motion of the Earth and the Luminiforous Ether, American Journal of Science, Vol 35 , uitgawe 203, bl. 333-345
- ↑ A.A. Michelson, G.G. Pease, 1921, Measurement of the diameter of Alpha Orions with the interferometer. Astrophysical Journal, volume 43, bl. 240-259, doi 10.1086/142603.
- ↑ Mechanische Fourieranalyse, De Ingenieur (2015), volume 127, issue 1,bl. 59.
Boeke deur hom geskryf
wysig- Velocity of light (1902)
- Light waves and their uses (1903)
- Studies in optics (1927)
Literatuur
wysig- Livingston, D. M. (1973). The Master of Light: A Biography of Albert A. Michelson ISBN 0-226-48711-3 - biografie deur Michelson se dogter